Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Vicki Momberg: Aansoek om appèl geweier

Vicki Momberg, veroordeelde rassis, se aansoek om appèl op haar skuldigbevinding en vonnis is Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys.

Regter Thifhelimbilu Mudau het aan Momberg die volgende stap – om na die appèlhof in Bloemfontein te petisioneer – verduidelik.

vicki momberg
Vicki Momberg Vrydag in die hof. Foto: Zukhanye Mtebele

Adv. Steven Rubin, vir die staat, het aan Mudau gesê Momberg sal nou aan die hof moet verduidelik waarom sy  ‘n redelike kans het om op die ou end vrygeskeld te word, sodat haar borgtog verleng kan word.

Momberg het volgehou dat sy ‘n baie goeie kans het om vrygeskeld te word. Mudau sê Momberg het 30 dae om ‘n aansoek om verlof tot appèl by die appèlhof in te dien, of sy moet teruggaan tronk toe. 

As sy nie die 30 dae sperdatum haal nie, het sy 48 uur om by die landdroshof in Randburg aan te meld om haar vonnis te begin uitdien.

Mudau het as rede aangevoer dat daar geen "regverdigbare rede is om met die vonnisoortuiging van die hof wat die verhoor hanteer het, in te meng nie."

Momberg sê sy wil nou eers ‘n nuwe regstverteenwoordiger aanstel, nadat sy op 11 Junie sélf haar aansoek in die hooggeregshof in Johannesburg gebring het, nadat sy haar sesde prokureur gedurende hofverrigtinge in die pad gesteek het. 

Momberg, van Durban, is twee jaar tronkstraf opgelê nadat sy in November 2017 aan vier klagte van crimen injuria skuldig bevind is.

Sy het op 3 Februarie 2016 die noodnommer 10111 geskakel nadat sy glo die slagoffer van ’n grypdief in Johannesburg was en volgens die vier aanklagte die operateurs en ’n polisielid wat haar wou help, herhaaldelik gevloek en die k-woord toegesnou het.

Sy is die eerste mens in die land se regsgeskiedenis wat tronkstraf vir rassisme opgelê is.

Vicki Momberg in April vanjaar in die landdroshof in Randburg. Foto: Deon Raath

Momberg het in haar aansoek aangevoer dat sy weens “mishandeling deur die vals media”, “afbrekende behandeling deur die staat” en die weiering van noodsaaklike getuienis vir haar saak nie ’n regverdige verhoor in die streekhof in Randburg gehad het nie.

“Alle staatsgetuies het op die een of ander manier hul getuienis gemanipuleer of gelieg. Daar was ’n vorm van bedrieglike samespanning . . .” het sy aangevoer.

Volgens Momberg is die streeklanddros wat haar gevonnis het, deel van die sameswering teen haar.

Sy het gehou by haar verweer van nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid. “Alles wat gebeur het, was ’n regstreekse gevolg van die trauma wat ek (ná die grypdiefvoorval) ervaar het. Die trauma het my laat beheer verloor,” het sy aangevoer.

Volgens die staat is die tronkstraf van twee jaar “nie skokkend onvanpas nie” aangesien sy onder meer “geen berou oor haar optrede toon (nie)”.


Meer oor:  Randburg  |  Johannesburg  |  Vicki Momberg  |  Hof  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.