Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vicki Momberg is terug in die tronk
Vicki Momberg het Woensdag vir kameras geglimlag nadat sy in hegtenis geneem is. Foto: Simon Sonnekus

Die veroordeelde rassis Vicki Momberg is voorlopig terug in die tronk, en hoewel haar prokureur aanvoer sy is onregmatig in hegtenis geneem, hang daar nou ’n wolk van moontlik nuwe aanklagte oor haar kop.

Momberg is vroeër vanjaar tot twee jaar tronkstraf gevonnis nadat sy ’n polisieman in 2016 altesame 48 keer die k-woord toegesnou het. Sy was uit op borgtog hangende ’n appèlproses, maar het na bewering verskeie sperdatums wat hiermee verband hou, gemis.

Die polisie soek haar sedert 1 Augustus, nadat ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik is. Dit hou verband met haar crimen injuria-saak. Woensdag het sy haar toe aan die Douglasdale-polisie in Johannesburg gaan oorgee.

Die hooggeregshof in Johannesburg het in Junie vanjaar haar aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys.

Die hof het haar borgtog verleng en haar 30 dae gegun om regstreeks aan die appèlhof ’n petisie te rig. Indien sy dit nie sou doen nie, moes sy haar by die hof aanmeld om die res van haar vonnis uit te dien.

Toe Momberg na bewering haar sperdatums mis, het die owerhede ’n lasbrief bekom en toe glo drie maande lank sonder enige sukses na haar gesoek. Momberg ontken sy het die sperdatums gemis.

Volgens die Menseregtekommissie (MRK) het sy ook nie ’n bevel van die gelykheidshof in 2017 nagekom nie.

Vicki Momberg word deur polisiebeamptes na die landdroshof in Randburg gebring, nadat sy haarself oorgegee het. Foto: Simon Sonnekus

In dié haatspraak-saak moes sy konst. Clement Mkhondo R100 000 betaal omdat sy hom onder meer ’n “nuttelose k****r” genoem het. Sy moes 100 uur gemeenskapsdiens gedoen het, binne vyf dae ná die bevel ’n onvoorwaardelike verskoning op sosiale media geplaas het en opleiding in rassesensitiwiteit ondergaan het.

Adv. André Gaum, MRK-kommissaris, het Woensdag aan Netwerk24 bevestig Momberg het geen van dié strawwe nagekom nie.

Die MRK het nog nie aansoek by die hof gedoen vir

’n saak van minagting (van die hof) nie, maar sal “binnekort ons regspan konsulteer,” sê Gaum.

In ’n ander, onverwante saak word sy aangekla van gewone aanranding. Dis nie seker wat die omstandighede is nie, maar haar huidige regsverteenwoordiger, Anesh Sukdeo, sê die klag is ná die crimen injuria-saak ingedien. Volgens hom is sy uit op waarskuwing. Hy hou vol sy is onskuldig.

‘Haar regte is geskend’

Sukdeo het Woensdag in die landdroshof in Randburg betoog sy kliënt se regte is geskend omdat sy gearresteer is nadat sy wél betyds haar petisie ingedien het. Hy het ook aangevoer sy is sonder ’n lasbrief in hegtenis geneem.

Volgens Sukdeo het die hooggeregshof se bevel nié gespesifiseer of die spertyd van “30 dae” naweke en openbare vakansiedae insluit of nie.

Momberg het haar aansoek blykbaar op 13 Augustus – “die laaste dag van haar 30 dae” – ingehandig.

Vicki Momberg hou vol sy het nooit vir die owerhede weggekruip nie en dat die inhegtenisneming onregmatig gedoen is. Foto: Simon Sonnekus

Volgens Sukdeo het Momberg saam met die petisie ’n aansoek om kondonasie (verskoning weens laat inhandiging) ingedien, “hoewel dit nie nodig was nie, want sy was betyds”.

“Die nasionale direkteur van openbare vervolging het die aansoek om kondonasie aanvaar,” het Sukdeo aangevoer.

Hy het daarom aangevoer die lasbrief was voortydig en het landdros Pravina Raghunandan gevra om dit ter syde te stel.

Raghunandan het egter gesê sy kan nie die saak aanhoor nie omdat sy self die lasbrief op 1 Augustus onderteken het.

“Die aansoek moet by die hooggeregshof gedoen word. Hierdie hof het nie die jurisdiksie om die lasbrief ter syde te stel nie. Ek kan ook nie my eie bevel omkeer nie,” het Raghunandan gesê en die hof verdaag.

Momberg is na die Johannesburg-gevangenis, ook bekend as Sun City, geneem.

Sukdeo het buite die hof aan Netwerk24 gesê Momberg het nooit vir die polisie of die vervolgingsgesag weggekruip nie en was deurlopend met hulle én die appèlhof in verbinding.

Hy het verder gesê hy wag nou op ’n opdrag van Momberg voordat hy ’n aansoek by die hooggeregshof indien.

Meer oor:  Rassisme  |  Rassis  |  Vicki Momberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.