Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Vicki Momberg ook van aanranding aangekla

Vicki Momberg, wat Woensdagmiddag in die streekhof in Randburg haar inhegtenisneming betwis, is onlangs ook in ’n onverwante saak van algemene aanranding aangekla en op waarskuwing vrygelaat.

Haar regsverteenwoordiger, Anesh Sukdeo, het bevestig dat dié klag aanhangig gemaak is nadat sy skuldig bevind is aan die aanklagte van crimen injuria, “maar sy het die stemopnames”, het Sukdeo aan Netwerk24 gesê en volgehou dat sy onskuldig is.

Vicki Momberg
Vicki Momberg by 'n polisiebeampte. Foto: Simon Sonnekus

Die omstandighede van die beweerde misdryf is nie bekend nie.

Momberg is tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis nadat sy aan crimen injuria skuldig bevind is.

Sy word nou ook moontlik deur ’n aanklag van minagting van die hof in die gesig gestaar. Dit kom nadat sy volgens die owerhede in haar crimen injuria-saak nie betyds na die appèlhof petisioneer het nie en glo versuim het om haar by die landdroshof in Randburg aan te meld om haar vonnis uit te dien.

Momberg ontken dat sy laat was. Die polisie soek haar sedert 1 Augustus. Sy het Woensdagoggend uit Durban by die polisiekantoor in Douglasdale opgedaag en haarself oorgegee.

Daarna is sy na die landdroshof geneem sodat die laaste proses afgehandel kon word wat betref die lasbrief vir haar inhegtenisneming omdat sy glo ’n hofbevel geminag het en haar nie by die hof aangemeld het nie.

Die hof het Woensdagmiddag tydelik in afwagting van ’n advokaat van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Johannesburg verdaag.

Sukdeo het in sy betoog voor streeklanddros Pravina Raghunandan gesê hy is “baie bekommerd” oor die saak.

Volgens hom is sy kliënt in hegtenis geneem sonder ’n bewys van ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming.

“Die beskuldigde se regte is geskend. As jy in hegtenis geneem word, moet die polisie die lasbrief kan toon. Jy kan nie wag tot sy by die hof is voor jy dit oorhandig nie.”

Hy het betoog dat Momberg wel binne haar spertyd van 30 dae (op 13 Augustus) na die appèlhof petisioneer het.

Die hofbevel wat sy moes nakom, het glo nie gespesifiseer of sy binne 30 dae (naweke en openbare vakansiedae) of binne 30 hofdae (werkdae) moes petisioneer nie, het Sukdeo aangevoer.

Hy het gesê Momberg het op 13 Augustus ’n aansoek om kondonasie saam met haar petisie ingedien “hoewel dit nie nodig was nie, want sy was betyds”.

“Die nasionale direkteur van openbare vervolging het die aansoek om kondonasie aanvaar. Dit was nooit nodig nie, maar sy het dit steeds ingedien en dis aanvaar.”

Hy het gesê hy verstaan dus nie waarom ’n lasbrief vir die beweerde laat indiening uitgereik is nie en dat dit voortydig was.

Raghunandan het die hof verdaag sodat iemand van die kantoor van die DOV Sukdeo “antwoorde kan kom gee”.

Netwerk24 het vroeër berig dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie haar óók moontlik wil laat aankla van minagting van die hof nadat sy glo versuim het om die gelykheidshof se bevel in ’n haatspraaksaak na te kom.

Meer oor:  Vicki Momberg  |  Randburg  |  Crimen Injuria  |  Hof  |  Aanranding  |  Aangekla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.