Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vicki Momberg-saak: ‘Geduld met rassiste is op’

Rassisme sal eenvoudig nie meer geduld word nie.

Yusuf Baba, staatsaanklaer in die Vicki Momberg-saak, het nadat dié voormalige eiendomsagent tot twee jaar effektiewe tronkstraf gevonnis is, gesê haar straf is ’n sterk boodskap aan alle mense van alle rassegroepe dat die geduld met rassisme óp is.

Vicki Momberg stap af na die hofselle. Foto: Murray Louw

Momberg (49) is in November deur landdros Pravina Raghoonandan op vier aanklagte van crimen injuria in die landdroshof in Randburg skuldig bevind.

Raghoonandan het Momberg Woensdag tronkstraf van drie jaar opgelê, waarvan ’n jaar vir drie jaar opgeskort is.

Momberg se regspan het dadelik aansoek om verdere borgtog gedoen, maar dit is van die hand gewys nadat Baba kapsie gemaak en gesê het daar moet ingevolge die regsprosedure eers aansoek om verlof tot appèl gedoen word. Sy kan dít volgende Woensdag doen en word tot dan aangehou, het die hof beslis. ’n Betraande Momberg is daarna weggelei.

Sy het op 3 Februarie 2016 ’n polisielid en minstens vier Gautengse 10111-operateurs die k-woord 48 keer toegesnou nadat hulle haar wou bystaan toe sy glo die slagoffer van ’n grypdief was.

Die hof het bevind sy het geen berou getoon nie en nadat sy in twee howe skuldig bevind is, steeds geen verantwoordelikheid vir haar optrede aanvaar nie.

Die hof het gehoor Momberg het ook beweerde rassistiese aanmerkings gemaak teenoor die proefbeampte wat oor haar ’n verslag vir die hof moes opstel. Haar vonnis is waarskynlik die swaarste straf weens rassisme wat tot nog toe in Suid-Afrika opgelê is.

Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria (UP), sê dit is inderdaad ’n taamlike swaar vonnis.

“Dit is goed dat die hof sy misnoeë oor crimen injuria-oortredings so sterk beklemtoon, maar dit sal konsekwent toegepas moet word.

“Daar is politici wat op openbare platforms sê wit mense se ore moet afgesny word. Hulle word net op die vingers getik en gaan nie tronk toe nie. Daarom sal die hof moet besluit hoe hy haatspraakoortreders konsekwent gaan straf.”

AfriForum sê in ’n verklaring Momberg se woorde was rassisties en moet inderdaad veroordeel word, maar die vonnis bevestig weer die dubbele standaarde oor ras.

Phindi Mjonondwane, provinsiale woordvoerder van die na­sionale vervolgingsgesag in Gauteng, sê dit is ’n waterskeidingsaak en sal die presedent skep vir ander rassevoorvalle.

Die politieke kommentator Ralph Mathekga sê die vonnis “wys aan die een kant dat haatmisdade baie ernstiger as vantevore beskou word, maar dit kan rasgroepe ook verder uitmekaardryf”.

Wit mense kan nou versigtig wees om enigsins met swart mense te praat. “Dit is verkeerd. Ons moet juis met mekaar praat en rasseverhoudinge bou.”

Curlewis sê die vonnis kan mense wel afskrik om nie ’n soortgelyke misdaad te pleeg nie.

“Daar is wel geen waarborg nie. Mense kry lewenslange tronkstraf weens moord, maar moorde word steeds gepleeg.”

Die Menseregtekommissie verwelkom die vonnis, sê Gail Smith, woordvoerder.

John Jeffery, adjunkminister van justisie, sê die vonnis is gepas omdat Momberg nie berou getoon het nie. “Mense kom al te lank daarmee weg om walglike goed te sê en dan net op die vingers getik te word.”

Sy het ook gesê as sy ’n swart persoon sien, gaan sy oor hom of haar ry en dood maak. Dis baie ernstig.

AfriForum sê in ’n verklaring Momberg se woorde was rassisties en moet inderdaad veroordeel word, maar die vonnis bevestig weer die dubbele standaarde oor ras.

“Dié vonnis word opgelê enkele dae nadat ’n majoor in die weermag bloot op die vingers getik is omdat hy gesê het dat wit mense se oë en tonge uitgesteek moet word.”

Volgens AfriForum het hy die afgelope jaar 113 strafregtelike klagte ingedien teen mense wat moord, verkragting, aanranding en selfs volksmoord teen wit mense in die openbaar aanhits.

“Tot op hede is geen noemenswaardige vordering met dié sake gemaak nie.”

Prof. Elmien du Plessis, regsprofessor aan die Noordwes-Universiteit, sê egter herstellende geregtigheid is ’n samewerkende proses wat vra dat oortreders verantwoordelikheid neem vir hul oortreding en dat hul sover as moontlik moet probeer om die skade aan die slagoffer en die gemeenskap herstel.

“Momberg het volgens die landdros nie veel berou getoon nie wat wys dat sy nie verantwoordelikheid neem vir haar optrede nie. Besef sy daadwerklik dat dit wat sy gedoen het, verkeerd is?

“Ek het ook a anvanklik gedink twee jaar tronkstraf is rof, maar ek het die video weer gaan kyk. Sy het 48 keer die k-woord gebruik.

“Sy het ook gesê as sy ’n swart persoon sien, gaan sy oor hom of haar ry en dood maak. Dis baie ernstig,” sê Du Plessis.

Meer oor:  Vicki Momberg  |  Randburg  |  Crimen Injuria  |  Hof  |  Rassisme  |  Vonnisoplegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.