Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vier plaasmoord-aangeklaagdes vra ander landdros
Drie van die vier beskuldigdes Donderdag buite die hof.Foto: Gerda-Marie van Rooyen

Die vier beskuldigdes in verband met die moord op die boere-egpaar Sakkie (67) en Ina van der Berg (62) het hul borgtogaansoek in die landdroshof in Boshof in die Vrystaat kortgeknip deur vir ’n ander landdros te vra.

Kort nadat die krag weens beurtkrag afgegaan het, het die vier se regsverteenwoordiger, Sinethemba Mzuzu, aangevoer landdros Mothusi Khumalo sal partydig wees.

Hy het gesê Khumalo het reeds voorheen, terwyl die saak hangende was, twee van die vier in verband met ander oortredings skuldig bevind.

Lolo Johannes Sekgoro is op aanklagte van veediefstal skuldig bevind, en Daniël Tsekiso Selwane vir poging tot ontsnapping. Die ander aangeklaagdes is Daniël Sidas Lephele en Terrence Kat Thami.

Hulle al vier word daarvan aangekla dat hulle die Van der Berg-egpaar op 12 Julie verlede jaar op die plaas Bloubos met hul eie vuurwapen vermoor het.

Sekgoro word ook daarvan aangekla dat hy in April 2018 by ’n plaasaanval op Japie en Emma van den Berg van Hertzogville betrokke was. Japie, ’n melkboer, is intussen dood.

Die borgtogverhoor is Vrydag ure lank vertraag omdat die span se regsverteenwoordiger eers sake in Kimberley moes afhandel, en ’n beskuldigde wat van die Grootvlei-gevangenis buite Bloemfontein gebring is, nie betyds in Boshof was nie.

Khumalo het aan die aangeklaagdes verduidelik dat ’n ander landdros hulle nie sal vrywaar van moontlike bevooroordeling nie, aangesien elkeen se misdaadrekord en hangende sake deel van die hofdokumente is wat voor die landdros gebring sal word.

“Ek neem nie aanstoot dat julle iemand anders wil hê nie, maar weet dat daardie persoon ook toegang tot jul rekords sal hê.

Adv. Johan de Vries, staatsaanklaer, het die uitstel van die borgtogaansoek betreur, maar sê dit sal verhoed dat die aangeklaagdes later gedurende die verhoor die landdros as partydig uitmaak.

Die borgtogaansoek is tot 28 Februarie uitgestel. Die voorlopige hooggeregshofdatum is 2 Maart, maar die aktes is nog uitstaande.

Lede van die gemeenskap het buite die hof beswaar gemaak teen moontlike borgtog vir die vier mans wat aangekla word van die moord op Sakkie en Ina van der Berg van Boshof.Foto: Gerda-Marie van Rooyen

Meer oor:  Plaasmoord  |  Sakkie Van Der Berg  |  Boshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.