Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vingerafdrukke plaas glo Boshof-verdagte op moordtoneel

Die vingerafdrukke van een van die beskuldigdes in die opspraakwekkende moorde op die Van den Berg-egpaar, Sakkie (67) en Ina (62), in die distrik van Boshof is op die moordtoneel gekry, blyk uit die staat se saak in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Dié houtbordjie met die woorde “Hier bly ’n bakgat oupa en ouma”, wat die vermoorde Van den Berg-egpaar, Sakkie en Ina, se kleinkinders as ’n geskenk vir hulle gegee het, is Woensdag deur ao. Dirk van Rijn, ondersoekbeampte, aan twee van die egpaar se dogters buite die hooggeregshof in Bloemfontein terugbesorg. Die dogters is Nicolene Pienaar (links) van Bloemfontein en Liezel Kruger van Klerksdorp. Foto: Mike van Rooyen

Dié verhoor voor regter Lani Opperman kon Woensdag steeds nie begin nie, omdat die prokureur wat vir drie van die vermeende moordenaars moet optree, nog nie opgedaag het nie.

Van die beskuldigdes het in die hof gesê hul familie het Sinethemba Mzulu in sy kantoor in Kimberley gaan soek om te hoor wat aangaan. Die kantoor is gesluit. Hulle oorweeg dit nou om van dienste van Regshulp SA te gebruik.

Maandag het die hof gehoor hy is blykbaar in ’n verafgeleë dorpie in die Oos-Kaap waar die selfoonontvangs swak is.

Opperman het die verrigtinge tot Vrydag uitgestel sodat die beskuldigdes ’n oplossing vir hul probleem kan vind.

In die klagstaat teen die vier sê die staat vingerafdrukke van Johannes Sekgoro (41) is op die moordtoneel gevind. Van die besittings van die oorledenes is ook in sy besit gevind.

Van hul goed is ook in die besit van Thami Terence Kat (35) en Daniel Tsekiso Seloane (26) gekry. Die ander beskuldigde is Leepile Daniel Sidasi (44).

Die Van den Bergs, wat op die plaas Blouboswes gewoon en in Kimberley gewerk het, is op 12 Julie verlede jaar op die plaas vermoor. Sakkie is by die deur van een van die slaapkamers met veelvuldige beserings dood gekry.

Ina is op die kombuisvloer dood met ’n koeëlwond in die kop gekry. Albei se hande was vasgebind.

Die staat sê die oorledenes se bakkie is later verlate naby die Caledonrivier gekry. ’n Vuurwapen wat ook met die misdaad verbind word, is in Kat se ouers se huis gekry.

Sekgoro, Seloane (albei van Boshof), Sidasi (van Hertzogville) en Kat (van Bloemfontein) word van die moorde en roof aangekla. Kat en Seloane word ook van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie aangekla.

Adv. Allen Simpson kla aan. Venecia Abrahams van Regshulp SA tree vir Kat op.

Meer oor:  Ina Van Den Berg  |  Sakkie Van Den Berg  |  Boshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.