Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vinpro gaan hof vra om drankverbod in W-Kaap op te hef

Die wynbedryfsliggaam Vinpro sal Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad betoog dat die huidige drankverbod in die Wes-Kaap opgehef kan word in ’n poging om die wynbedryf van ondergang te red.

Rico Basson, Vinpro se bestuurshoof.

Volgens Vinpro is die afgelope tyd se “oproerige” optrede van geweld, plundery en die vernietiging van eiendom ’n probleem vir die land, wat nou deur ongekende uitdagings in die gesig gestaar word. So ook het die Suid-Afrikaanse wynbedryf met ongekende uitdagings te kampe.

Vinpro sê die wynbedryf is op die rand van ’n afgrond nadat sy inkomste in die afgelope 16 maande verskeie kere geraak is deur die inwerkingstelling van minstens vier tydperke sedert Maart 2020 waarin ’n verbod op die verkope van drank geplaas is.

“Talle wettige, belastingbetalende wyn- en toerisme-ondernemings, en veral kleiner ondernemings, wat tot die ekonomie bydra, kan moontlik hul deure sluit, wat daartoe kan lei dat duisende werknemers sukkel om hul gesinne te voed,” sê Rico Basson, Vinpro se bestuurshoof. “Dit terwyl onwettige handel steeds floreer, insluitend die plundering van verskeie drankhandelaars en -verspreiders verlede week.”

Volgens Basson is dringende ingryping nodig om ’n sektor te herbou wat op sy knieë is vanweë ondeurdagte besluite wat nie op behoorlike empiriese data gebaseer is nie. Dit sluit in die heropening van wettige wynhandel op ’n verantwoordelike wyse en wel deur die toepassing van ’n risiko-gebaseerde benadering wat van provinsie tot provinsie verskil.

Dringende ingryping is nodig om ’n sektor te herbou wat op sy knieë is vanweë ondeurdagte besluite wat nie op behoorlike empiriese data gebaseer is nie.

Reg en orde moet ook gehandhaaf word met betrekking tot die misbruik van drank, insluitend onwettige handel, asook die toepassing van die bestaande regulasies.

Finansiële verligting en tasbare ondersteuning van die regering is ook uiters belangrik om die sektor te help herbou. Laastens is ’n samewerkingsmodel nodig met ’n geteikende benadering om misbruik hok te slaan en gedragsverandering te verseker.

Basson het gesê die nasionale regering se volgehoue gebrek om die bedryf te konsulteer en om bystand te verleen, het hulle genoop om die hof te nader in ’n poging om weer sake te kan doen in ’n poging om te voorkom dat nog besighede sluit en mense hul werk verloor.

Vinpro vra die hof dat die Wes-Kaap van die huidige regulasies kwytgeskeld word deur Alan Winde, Wes-Kaapse premier, die mag te gee om af te wyk van die nasionale verbod en om verkope van drankprodukte vir binne- en buiteverbruik toe te laat.

Indien suksesvol, sal Vinpro die hof nader vir soortgelyke verligting in ander provinsies.

Die tweede been van die aansoek, wat die grondwetlikheid van die regulasies uitdaag, sal op 23 en 26 Augustus in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.

Die SAB brou verskeie bierhandelsname wat gewild is onder Suid-Afrikaners. Tans vervaardig dié brouery egter geen bier in Suid-Afrika nie.

In ’n soortgelyke dringende aansoek van die Suid-Afrikaanse Bierbrouery (SAB), wat reeds op 9 Julie aangehoor is, word daar tans uitspraak verwag. Dié saak se tweede deel sal ook in Augustus aangehoor word.

Die partye is aanvanklik deur die regering gevra om hul sake te konsolideer, maar daar is besluit om die sake afsonderlik te hou, omdat Vinpro ’n provinsiale aanslag het, terwyl die SAB nasionaal fokus.

Die regering staan albei aansoeke teen en voer aan die verbod is nie om skade te doen nie, maar om tydens die derde vlaag van die pandemie die druk op die gesondheidstelsel te verlig in ’n poging om lewens te red.

Met minder drankverwante voorvalle is daar minder druk op hospitale en gesondheidswerkers.

Die regering voer ook aan wanneer ’n mens drink, verlaag dit inhibisies en gesonde afstande word dan nie meer gehandhaaf nie, wat dan lei tot superverspreider-geleenthede.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 27 Junie met die aankondiging van ’n aangepaste vlak 4-inperking ’n verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol ingestel. Dit was van krag tot 11 Julie, maar is toe met nog twee weke verleng.

Waarnemende regter Constance Nziweni sal die dringende aansoek virtueel aanhoor.

Meer oor:  Kaapstad  |  Drankverbod  |  Vinpro  |  Hooggeregshof  |  Sab  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.