Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vir Guptas is vliegtuig ‘saak om lewe en dood’

Die Guptas hou vol ’n vliegtuig verweer as dit op die grond staan en nie gevlieg word nie en daarom sal hulle nie hul straler teruggee nie.

Die instandhouding van die vliegtuig is een van die talle gronde waarop die omstrede familie appèl aanteken teen ’n bevel van die hooggeregshof in Johannesburg.

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane het op 19 Maart die Guptas beveel om die vliegtuig binne 15 dae aan sy Kanadese finansier en vervaardiger terug te besorg of by die Lanseria-lughawe in Johannesburg te oorhandig. So nie, moet die Burgerlugvaartowerheid (BLO) die registrasie van die luukse Bombardier Global 6000-straler skrap.

Die aansoek om verlof tot appèl is reeds op 23 Maart in die hooggeregshof in Johannesburg ingedien en sal na verwagting binne twee weke voorkom.

Export Development Canada (EDC) en die Kanadese maatskappy Stoneriver het onder meer finansiële risiko’s, skade aan die vliegtuig, skade aan hul reputasie en kommer dat die vliegtuig vir misdrywe gebruik word, as gronde vir die aansoek gegee.

In hul aansoek om verlof tot appèl hou die Guptas vol hulle hou die vliegtuig in stand, want benewens hul finansiële belang, is dit “ ’n saak van lewe en dood dat die vliegtuig gebruik word”.

Die Guptas se straler, ZS-OAK. Foto: Argief

Die Guptas beweer die aansoekers kon nie bewys dat hulle die vliegtuig beskadig deur daarmee te vlieg of bewys dat dit vir misdrywe gebruik word nie.

“Die aanname dat die aansoekers skade sal ly as hulle nié die vliegtuig terugkry nie, is onsin. Hul voorbeelde (om skade en risiko te bewys) het met motors verband gehou en nie ’n vliegtuig nie. Vliegtuie verweer juis nié as hulle in gebruik is nie,” sê hulle in hul aansoek.

Wat die skade aan die aansoekers se reputasie betref, sê die Guptas hulle gebruik die vliegtuig al sedert April 2015.

“Enige omstredenheid (om die Guptas) was toe al in die Suid-Afrikaanse en Kanadese media, maar die aansoekers het nie toe gereken hul reputasie gaan skade ly nie – ook nie nadat die openbare beskermer haar verslag ‘vol bewerings’ in November 2016 vrygestel het nie.”

Die familie hou verder vol die Suid-Afrikaanse hof het nie jurisdiksie gehad om die hofbevel uit te reik nie. Die aansoek is aanvanklik ingedien hangende die uitslag van ’n saak wat in die hooggeregshof in Engeland en Wallis beslis word. In daardie saak voer die Guptas aan die aansoekers het in Desember 2017 die huurkoopkontrak vir die straler onwettig beëindig. Die Guptas sê daarom het die Engelse hof “eksklusiewe jurisdiksie”.

’n Vlieënier van ’n bekende lugdiens wat ook betrokke was by die veiligheidsbestuur van vliegtuie sê die Guptas se argument dat die vliegtuig groter skade opdoen as hy op die grond staan as wanneer hulle daarmee vlieg, is onsin.

“Hulle is reg in soverre die vliegtuig in ’n goeie meganiese toestand bly as hy vlieg, maar dit verloor waarde. Daar is ’n sekere getal ure tussen versiening of inspeksie. Elke uur wat hy vlieg, kan in geld omgesit word,” sê hy.

Die vlieënier mag nie amptelik met die media praat nie daarom word sy naam weerhou.

Hy sê die instandhoudingskedules moet voortgaan, selfs al staan die vliegtuig op die grond.

Stephan van der Merwe, senior prokureur en dosent in siviele prosesreg van die Universiteit Stellenbosch, sê hy reken nie die aansoek, ten minste wat jurisdiksie betref, hou steek nie.

Meer oor:  Straler  |  Guptas  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.