Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Ou vlag: Roets onskuldig aan minagting van hof

AfriForum se Ernst Roets is onskuldig aan minagting van die hof. 

Regter Colin Lamont het Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg gelas Roets, adjunkhoof van die burgerregteorganisasie, se twiet met 'n afbeelding van die ou landsvlag en die byskrif: “Did I just commit hate speech?” is nie 'n strafregtelike oortreding van 'n hofbevel nie, omdat die uitspraak (bevel) deur die gelykheidshof slegs verklarend van aard was. Hy voel dis 'n saak vir die gelykheidshof en beveel aan dat 'n klag van haatspraak dáár ingedien word. 

Ernst Roets
Ernst Roets. Foto: Felix Dlangamandla

"Daar is geen minagting van die (gelykheidshof)-bevel nie," het Lamont gevind en die aansoek deur die Nelson Mandela-stigting van die hand gewys. 

"Dis egter nie die einde van die pad nie, want die gelykheidshof is by magte om 'n genoegsame sanksie uit te oefen," het Lamont gesê. Die gelykheidshof kan die saak nou as 'n saak van haatspraak hanteer. 

Die twiet het vroeër gevolg op die gelykheidshof se uitspraak dat die "onnodige en sinnelose vertoning" ("gratuitous display") van die ou landsvlag haatspraak is – dat dié vlag sinoniem met apartheid is. Volgens die gelykheidshof mag die ou vlag nou net binne akademiese, historiese, artistieke of joernalistieke kontekste vertoon word. Dit word ook net in private kontekste toegelaat waar dit nie mense kan aanstoot gee nie. Die Nelson Mandela-stigting (NMS) het daardie aansoek teen AfriForum gebring.

Ná die twiet het die NMS 'n strafregtelike klag van minagting van die hof teen Roets in persoonlike hoedanigheid ingedien.

Die NMS het onder meer betoog Roets val die landswette aan. “Roets se gedrag is 'n aanval op die wette van die land en die regstelsel,” het Tembeka Ngcukaitobi namens die stigting betoog. Die stigting wil hê Roets moet weens sy beweerde misdryf tot 30 dae agter tralies deurbring.

Roets het op sy beurt aangevoer dat daar geen staande hofbevel was wat hom verbied het om die landsvlag op sosiale media te plaas nie. Sou iemand voel dat hy teen die gelykheidshof se uitspraak optree, hulle dan 'n saak van haatspraak teen hom moes voer, nie 'n strafsaak van minagting van die hof nie.

Hy het verder aangevoer dat die twiet binne die raamwerk van die gelykheidshof se uitspraak val. Roets, wat sy doktorsgraad in die regte doen, hou vol die vraag was akademies van aard en billike kommentaar op die gelykheidshof-uitspraak.

Reaksie van die partye volg.

Meer oor:  Afriforum  |  Ernst Roets  |  Vlag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.