Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Vlagaktivis’ gedagvaar oor oudvriendin se geld

Johan Pienaar, die man wat Maandag in die landdroshof in Stellenbosch deurgebring het om aansoek te doen om ’n beskermingsbevel teen die sanger Steve Hofmeyr, moet eersdaags weer hof toe gaan.

Dié keer word Pienaar daarvan aangekla dat hy onder valse voorwendsels R240 000 by Anne-Marié Burger (54), ’n oudvriendin, gekry het.

Johan Pienaar, die sogenaamde vlagaktivis, Maandag by die landdroshof in Stellenbosch waar hy aansoek gedoen het vir ’n beskermingsbevel teen die sanger Steve Hofmeyr.Foto: Adrian de Kock

’n Dagvaarding is verlede week aan Pienaar bestel. Burger eis dat hy haar geld, met rente, terugbetaal.

Burger beweer Pienaar, ’n IT-spesialis, het haar laat glo hy ontwikkel selfoon- en rekenaarprogrammatuur wat doktersvoorskrifte vir die publiek sal sentraliseer. Sy beweer Pienaar het gesê hy het beleggers nodig om die projek te finansier.

Sy het toe voor Junie 2016 die volle bedrag van R240 000 in Pienaar se rekening betaal en het dié geld nooit weer gesien nie, hoewel daar ’n belofte van 40% van die wins aan haar gemaak is.

Burger voer nou aan Pienaar het nooit bedoel om die programmatuur te ontwikkel nie en het ook nie die nodige kennis om dit te doen nie. Sy sê toe sy begin vrae vra oor waar die geld heen is, het hy ophou reageer op haar oproepe en e-posse en soos ’n groot speld verdwyn.

Pienaar het Dinsdag bevestig hy het die dagvaarding ontvang.

Anne-Marié Burger (54) beweer Pienaar het onder valse voorwendsels R240 000 by haar gekry.

“Ek bestudeer dit tans en sal in die hof daarop reageer,” het Pienaar Dinsdag gesê.

“Ek verskil van die meeste van die bewerings wat Burger maak en glo dat sekere van die bewerings aan laster grens. Dit is in elk geval ’n verbreking van die bestaande vertroulikheidsooreenkoms tussen ons.”

Pienaar sê hy is van plan om haar eis in die hof teen te staan. Hy sê ook dit is onwaar dat hy net “verdwyn” het. Hy beweer Burger is eerder die een wat nie op sý korrespondensie gereageer het nie.

Volgens Pienaar het hy in Augustus verlede jaar ’n brief aan Burger gestuur ná ’n berig in Rapport waarin Burger aanvoer Pienaar skuld haar geld.

“Ek het ’n skrywe aan Burger gerig en ’n antwoord van haar prokureur ontvang waarin ek versoek is om nie met haar kontak te maak nie en dat hulle met my in verbinding sal wees,” sê Pienaar.

“Nadat ek nege maande lank niks van hulle gehoor het nie, is ek verlede week deur ’n joernalis ingelig dat hulle van plan is om ’n aksie in die hooggeregshof te begin.

“Ek vind dit eienaardig dat ek nie deur haar regsverteenwoordigers genader is nie, maar deur ’n joernalis wat kommentaar vra oor hofstukke wat nie (in daardie stadium) op my beteken was nie,” sê Pienaar.

Tim Dunn, Burger se regsverteenwoordiger, sê dit is waar dat Pienaar verlede jaar ’n brief aan hulle gestuur het, waarop hulle gevra het dat Pienaar nie verdere persoonlike kontak met Burger maak nie.

“Pienaar het nooit op my versoek geantwoord nie en toe geheel en al verdwyn, totdat hy onlangs as ’n rubriekskrywer vir Vrye Weekblad hervestig is,” sê Dunn.

“Ek neem kennis van Pienaar se voorneme om my kliënt se eis te betwis, ondanks die oorweldigende bewyse wat duidelik die modus operandi toon waarmee hy Burger bedrieg het om geld aan hom te betaal as ’n beweerde ‘belegging’,” sê Dunn.

“My kliënt se siening oor Pienaar se oneerlikheid word versterk deur sy besluit om nie op haar navrae te reageer nadat ek aangestel is om haar te verteenwoordig nie.”

Dunn sê Burger is vasbeslote om haar geld terug te kry en is tans besig om ’n strafregtelike klag teen Pienaar saam te stel.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Johan Pienaar  |  Stellenbosch  |  Ou Vlag  |  Hof  |  Dagvaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.