Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vlagtwiet: Appèl nie in belang van geregtigheid, sê hof

Die konstitusionele hof het die appèlaansoek van die Nelson Mandela-stigting oor Ernst Roets se vlagtwiet uitgegooi.

“AfriForum en die stigting is Dinsdag in kennis gestel dat die hof beslis het dit is nie in die belang van geregtigheid dat die appèlaansoek aangehoor word nie,” het AfriForum Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, destyds in die hooggeregshof in Johannesburg nadat die Nelson Mandela-stigting hom van minagting van die hof beskuldig het. Foto: Felix Dlangamandla

Luzuko Koti, die stigting se woordvoerder, het Dinsdag gesê die stigting respekteer en aanvaar die hof se besluit.

Volgens Roets, adjunkhoof van AfriForum, bevestig die besluit dat “die stigting sy eie agenda het wat op niks meer as ’n heksejag neerkom nie – ’n heksejag wat nie aan die hand van die reg geregverdig kan word nie”.

Roets het in September met die stigting koppe gestamp oor sy twiet met ’n afbeelding van die ou landsvlag met die byskrif: “Did I just commit hate speech?”

Dit was kort nadat die gelykheidshof in Augustus beveel het die ou vlag mag voortaan net in ’n akademiese, historiese, artistieke of joernalistieke konteks vertoon word. Dit word ook net in ’n private konteks toegelaat waar dit nie mense kan aanstoot gee nie.

Die stigting het aanvanklik ’n saak van minagting teen Roets in die hooggeregshof in Johannesburg gebring en aangevoer sy gedrag is ’n aanval op die wette van die land én die regstelsel. Die stigting het gevra vir 30 dae tronkstraf.

Regter Colin Lamont het toe bevind Roets se twiet kom nie neer op minagting van die hof nie omdat die uitspraak van die gelykheidshof slegs verklarend van aard was.

Roets het destyds in sy betoog gesê sy twiet val binne die raamwerk van die gelykheidshof se uitspraak en dat sy vraag akademies van aard was.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, se twiet in September. Foto: Ernst Roets / Twitter
Meer oor:  Afriforum  |  Nelson Mandela-Stigting  |  Ernst Roets  |  Appèl  |  Hof  |  Vlag-Twiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.