Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vlak 3, 4 skend Grondwet; inperking se reëls bly eers geldig

Die regulasies van vlak 3 en 4 van die inperking is ongrondwetlik en ongeldig, maar bly nog van krag totdat nuwe regulasies dit vervang.

So het prof. Koos Malan, ’n grondwetkenner aan die Universiteit van Pretoria, Dindagaand gesê ná die uitspraak van regter Norman Davis in die hooggeregshof in Pretoria.

Die uitspraak kom nadat Reyno de Beer en sy Liberty Fight­ers Network, ’n vrywillige gemeenskapsvereniging, sowel as die Hola Bon Renaissance-stigting, ’n niewinsgewende organisasie, vroeër ’n dringende aansoek teen die inperkingsregulasies ingedien het.

Die aansoek was op dr. Nko­sazana Dlamini-Zuma as minister van samewerkende regering en tradisionele sake gemik.

Hulle het onder meer die regulasies en die regering se algehele reaksie teenoor die Covid-19-pandemie as irrasioneel beskryf.

Die groep aansoekers wou onder meer hê dat die hof die vlak 3 en 4- gepromulgeerde regulasies, sowel as al die regulasies wat Dlamini-Zuma daarmee gepromulgeer het, ongeldig en ongrondwetlik verklaar.

Luidens die uitspraak wou die groep ook hê dat alle byeenkomste geldig verklaar word of om alternatiewelik onder sekere voorwaardes toegelaat word.

Die aansoekers wou ook hê dat alle ondernemings, dienste en winkels toegelaat moet word om sake te kan doen onderworpe aan redelike voorsorgmaatreëls.

Die regter het onder meer bevind dat die verklaring van ’n inperking rasioneel was. Die uitspraak lui verder dat Dlamini-Zuma se promulgering van die regulasies vir vlak 4 en 3 nie rasionaal verbind met die doelwitte om die infeksievlakke of die verspreiding daarvan te vertraag nie.

In die uitspraak kap die regter na Dlamini-Zuma wat eers haar antwoordende hofstukke laat ingedien het en daarna haar direkteur-generaal opdrag gegee het om die aansoek namens haar in die hof teen te staan.

Die regter het sy ontevredenheid uitgespreek oor die gebrek aan samehorigheid en koördinasie van die departement se kant af, veral ten opsigte van al die ander hofsake wat ook teen die regulasies of ’n deel daarvan ingedien is.

Van die sake wat in die uitspraak teen die regulasies gelys word, is dié van die DA, AfriForum en die Fair Trade Independent Tobacco Association wat almal verskillende aspekte van die regulasies in die hof uitdaag.

Phumla Williams, kabinetswoordvoerder, het Dinsdag gesê dat die regering kennis neem van die hof se bevinding.

“Die hof het sy verklaring van ongeldigheid vir ’n periode van 14 dae opgeskort. Dit beteken dat die regulasies vir vlak 3 vir nou steeds van krag is.”

Volgens Williams het die hof aan Dlamini-Zuma opdrag gegee om die regulasies in oorleg met ander ministers te hersien, te wysig en te herpubliseer.

“Die kabinet sal ’n verdere verklaring uitreik sodra dit die uitspraak ten volle bestudeer het,” het Williams gesê.

Die regering behoort die verbod op die verkoop van sigarette onmiddellik op te hef, sê die organisasie Tax Justice South Africa (TJSA).

Yusuf Abramjee van die TJSA-stigting sê dat die uitspraak die regering 14 dae gee om sy sake in orde te kry. 

“Dit is tyd vir pres. (Cyril) Ramaphosa om ware leierskap te toon en die fout met die sigaretverbod te erken.”

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, sê die uitspraak bevestig die DA se standpunt dat baie van die regulasies beuselagtig, irrasioneel en onredelik is.

“Ons het verskeie hofsake wat die regulasies uitdaag, sowel as ’n saak voor die konstitusionele hof wat die grondwetlikheid van die Rampbestuurswet self betwis.

“Hierdie uitspraak sal die eerste van baie wees wat teen die regering en hul beuselagtige, irrasionele regulasies sal gaan. Laat dit die eerste in ’n reeks lesse vir daardie magsdronk outokrate wees dat hierdie ’n demokrasie en nie ’n persoonlike koninkryk is nie en dat ons burgers en nie onderdane is nie,” sê hy.

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, sê die uitspraak moet gerespekteer word.

“Suid-Afrika is gebou op die regte van mense, en as Cope is ons bekommerd oor besluite wat deur die nasionale koronavirusbevelsraad geneem word wat indruis teen die regte van mense.”

AfriForum het die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak verwelkom dat die regulasies van vlak 4 en vlak 3 van die staat van inperking ongrondwetlik en ongeldig is.

AfriForum het die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak verwelkom dat die regulasies van vlak 4 en vlak 3 van die staat van inperking ongrondwetlik en ongeldig is.

Volgens Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, is die regulasies “ ’n onregverdigbare skending van mense se basiese vryhede” en is hulle gereed om voort te gaan met regsaksies om die tabak-, skoonheids- en restaurantbedryf by te staan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.