Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vlieënier onwettig in SA, dus kry hy nie borgtog

Die Zimbabwiese vlieënier wat ná ’n noodlottige motorongeluk in Port Elizabeth van die toneel af weggehardloop het, se status as onwettige immigrant het hom Vrydag sy borgtog gekos.

Een van die hoofredes wat die landdros gegee het vir waarom hy nie Kelvin Zirema (32) se borgtogaansoek kan toestaan nie, is omdat hy reeds vir vier jaar onwettig in Suid-Afrika is en hieroor vervolg gaan word.

“Hy het vier jaar gehad om dit te doen (sy visum te hernu), wat het hy gedink? Hoekom het hy dit nie probeer regstel nie?” het landdros Xolile Dlulisa in die plaaslike landdroshof gevra.

Zirema word daarvan aangekla dat hy onder die invloed van drank ’n geleende Audi A4-motor bestuur het toe hy in die vroeë oggendure van 12 Mei twee voetgangers in Somerstrand raakgery het.

Anthony Agbo (35) is op die toneel dood. Die tweede voetganger, ’n 26-jarige vrou van Zwide, se been is gedeeltelik afgeruk.

Zirema het ook teen vier motors vasgery wat voor die Humewood-hotel geparkeer was.

Hy het in sy borgtogaansoek gesê hy het uit vrees vir die omstanders se reaksie van die ongelukstoneel af weggehardloop.

Kelvin Zirema Foto: Facebook

Hy het aangevoer hy het na sy woonstel gehardloop en sy woonstelmaats gevra om hom polisie toe te neem en dat hulle die eienaar van die voertuig op pad daarheen opgelaai het.

Die polisie het Zirema egter by die motoreienaar se huis in hegtenis geneem.

Melani Hammett, staatsaanklaer, het die borgtogaansoek teengestaan en aangedui Zirema is ’n vlugrisiko.

Dit het ten tyde van sy borgtogaansoek aan die lig gekom dat Zirema onwettig in die land is sedert sy visum sowat vier jaar gelede verstryk het. Sy paspoort is steeds geldig.

Die staat het aangedui dat Zirema waarskynlik ingevolge die Immigrasiewet hiervoor vervolg sal word.

Dlulisa het Vrydag in sy uitspraak gesê Zirema huur ’n woonstel in Port Elizabeth, het geen ander eiendom in die stad nie en niemand was bereid om na vore te kom om te getuig dat hy heeltyds werk nie.

“Hierdie hof het baie tyd en hulpbronne gebruik om die uitspraak te kan lewer. Indien die applikant nie ’n onwettige immigrant was nie, sou die besluit moontlik anders gewees het.

“Wanneer iemand onwettig in die land is en die staat het planne aangedui om daardie persoon strafregtelik te vervolg, kan so iemand nie borgtog kry nie,” het Dlulisa gesê kort voordat hy die borgtogaansoek geweier het.

Die saak is tot 26 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.

Zirema word van strafbare manslag, dronkbestuur en roekelose of nalatige bestuur aangekla.

Meer oor:  Kelvin Zirema  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.