Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vlieënier wat van ongelukstoneel vlug ‘was bang’

Die motoris wat die afgelope naweek van die toneel van ’n noodlottige ongeluk in Port Elizabeth gevlug het, voer aan hy het uit vrees vir geweld deur die gemeenskap gevlug.

Dié stelling was deel van Kelvin Zirema (32), ’n vlieënier, se verklaring Donderdag in sy borgtogaansoek in die landdroshof in Port Elizabeth.

Volgens die polisie het Zirema, ’n Zimbabwiese burger, Sondagoggend omstreeks 04:00 in Beachweg, Somerstrand, in ’n Audi A4 gery en twee voetgangers getref.

Kelvin Zirema. Foto: Facebook

Anthony Agbo (35), een van die voetgangers, is op die toneel dood. Die tweede voetganger, ’n 26-jarige vrou van Zwide, se been is gedeeltelik afgeruk. Sy is steeds in die hospitaal.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Zirema het van die toneel af weggehardloop, maar is later aangekeer.

Hy word van dronkbestuur, strafbare manslag en roekelose of nalatige bestuur aangekla.

Melani Hammett, staatsaanklaer, het Donderdag borgtog vir hom teengestaan en aangevoer hy is ’n vlugrisiko.

Dit is omdat Zirema van die toneel af gevlug het, asook weens sy visum om wettig in die land te wees, wat verval het.

Luidens Zirema se verklaring kan hy nie veel van die ongeluk onthou nie, maar hy onthou die lyk wat in die pad gelê het terwyl verskeie omstanders op die toneel saamgedrom het.

“Ek het paniekerig geraak en gedink hulle kom my aanval, want ek het dit al voorheen in Wells Estate (Motherwell) gesien toe ’n bestuurder ’n kind raakgery het. Ek het huis toe begin hardloop.”

Hy voer aan hy het direk na sy woonstel in Suid-Einde gegaan waar hy sy huismaats wakker gemaak en gevra het hulle moet hom na die polisie neem.

Amon Nyaoda en Aleta Tanyaradzwa Matanga, Zirema se huismaats, het in ’n verklaring bevestig hy het hulle gevra om hom polisie toe te neem, maar wou eers by Mbasa Madlokazi – die eienaar van die Audi – aangaan om hom te vra om hulle na die polisie te vergesel.

Ek het huis toe begin hardloop.

Die polisie was egter reeds by Madlokazi se huis toe hulle daar opdaag, en Zirema is in hegtenis geneem.

Madlokazi het in ’n verklaring gesê hy en Zirema is beste vriende en hy het hom toestemming gegee om met sy Audi te ry.

Wat sy visum betref, lui Zirema se verklaring dat hy Suid-Afrika die eerste keer in 2009 vir ’n paar maande besoek het. Hierna het hy tussen 2011 en 2014 ’n studiepermit gehad om vir ’n vlieglisensie in Suid-Afrika te studeer. Die studiepermit het egter op 31 Desember 2014 verval.

Hy het in sy borgtogaansoek hom verder voorgeneem om Port Elizabeth nie te verlaat nie, en om nie met enige getuies in te meng nie, asook om sy bestuurslisensie en paspoort aan die polisie se ondersoekbeampte te oorhandig indien hy op borgtog vrygelaat word.

Uitspraak sal volgende Dinsdag in die borgtogaansoek gelewer word.

Meer oor:  Kelvin Zirema  |  Port Elizabeth  |  Vlieënier  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.