Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vlugtelinge moet kerk ‘so gou moontlik’ ontruim
Teen Woensdag was daar nog talle strukture en mense met hul besittings voor die kerk. Foto: Jaco Marais

Die bestuur van die Metodistekerk in die Kaapse middestad is keelvol omdat dit so lank neem om die vlugtelinge wat nou al maande in dié kerk woon, te verwyder.

Die hooggeregshof in Kaapstad het Maandag beslis die buitelanders wat op straat rondom die kerk woon, moet binne ’n week weg wees.

Die uitspraak raak egter nie die honderde mense, meestal vroue en kinders, wat in die kerk bly nie.

“My hoop is dat die uitspraak almal wat betrokke is, sal oortuig om die gebied en die kerk so gou as moontlik te ontruim,” sê eerw. Alan Storey van die kerk in ’n verklaring.

“Alle pogings het misluk om met die vlugtelinge (oor hul heenkome) te onderhandel. Hulle het talle kere ingestem om die kerk te verlaat, maar dit nooit gedoen nie.”

Die vlugtelinge woon al sedert einde Oktober in die kerk. 

Hulle het intussen in twee groepe verdeel, waarna dinge gewelddadig geraak en hulle mekaar einde Desember met pangas aangeval het.

Weens die voortgesette vyandigheid en geweldpleging tussen die groepe kan daar nie meer dienste in die kerk gehou word nie. Alle dienste het voorlopig na Observatory verskuif.

Storey sê die kerk moes homself afvra of hy regtig help deur die vlugtelinge te huisves, en of hy net “die simptoom behandel”.

Kerk nie toevlugsoord vir gewelddadige groepe

Hy het voorheen gesê hulle is bekommerd oor die gesondheids- en veiligheidsrisiko’s, asook die vyandigheid tussen die vlugtelinge.

Storey het gesê die kerk kan nie ’n toevlugsoord vir gewelddadige groepe wees nie.

“Ons is nie toegerus om hulle te hanteer nie. Dit is in hierdie konteks dat ons as kerk nou ander moontlikhede sal oorweeg om die situasie te hanteer.”

Die Kaapstad-metro het Donderdag gesê hy is daartoe verbind om die saak so vinnig as moontlik in ooreenstemming met die hofbevel op te los.

“Ons vra dat die publiek die departement van binnelandse sake en die metro sal toelaat om die bevel uit te voer,” lui ’n verklaring.

Intussen het die proses om die dokumente van die honderde vlugtelinge na te gaan Woensdag begin.

’n Lokaal in Soutrivier is geïdentifiseer waar die departement van binnelandse sake die vlugtelinge se aansoeke om asiel en vlugtelingstatus kan nagaan.

Die lokaal in Soutrivier sal ook gebruik word as ’n gerief om te bepaal wie in nood is en watter soort hulp hulle benodig. Hulle kan onder meer inligting gee oor hoekom hulle vervolging in hul land van herkoms of vir hul veiligheid daar vrees.

Meer oor:  Ontruiming  |  Vlugtelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.