Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vonnis: Berou oor sy seun

’n Pa wat sy oudste seun vir ’n dief aangesien en hom doodgeskiet het, is Vrydag aan moord skuldig bevind.

’n Verpletterde Coert Kruger het Vrydag by die streekhof in Vanderbijlpark gehoor hy is skuldig aan die moord op sy oudste seun, maar dat sy vonnis ’n waarskuwing en ontslag is. Foto: Elizabeth Sejake

Coert Kruger (51) van Vanderbijlpark het egter net ná sy skuldigbevinding as ’n vry man by die hof uitgestap met ’n waarskuwing vir die moord op sy seun Coert jr. (30).

Elke keer wat Kruger in die spieël kyk, gaan hy in die oë van sy kind se moordenaar vaskyk, het streeklanddros Robert Button gesê.

“Ek kan aan geen groter straf dink nie.”

Kruger het skuld erken op die moordklag.

‘Ek kan aan geen groter straf dink nie.’

In sy pleitverduideliking wat David Mey, Kruger se prokureur, aan die hof voorgelees het, het hy gesê hy wou homself doodskiet op Vrydag 22 Maart toe hy besef hy het sy eie seun geskiet.

Kruger het in sy pleit gesê hy en sy vrou, Riana, het daardie Vrydag reggemaak om te braai by hul kleinhoewe net buite Vanderbijlpark toe die alarm by die huis op die erf agter hulle afgegaan het.

Dié eiendom behoort ook aan hulle en is toe al maande lank geteister deur inbrake. Kruger en sy vrou het soontoe gery en daar vir die sekerheidsmaatskappy se mense gewag voordat hulle die huis in is. Dit was duidelik dat daar ’n inbraak was.

Sharon Taylor is baie ontsteld omdat haar eksman, Coert Kruger, nie tronk toe gestuur is nie.

Kruger het buite die huis gestaan toe hy hoor hoe ’n sif aan die bokant van die dak oopgebreek word. Hy kon weens ’n spreilig sien hoe ’n figuur beweeg.

“Dit het gelyk of die gedaante na my toe beweeg en ek het geskree ‘staan stil’, die haelgeweer gelig en in die algemene rigting ’n skoot afgevuur. Ek het gehoor hoe iemand skree ‘eina, eina’ en onmiddellik die stem geïdentifiseer as dié van my oudste seun.”

Kruger sê hy was uiters geskok en verbouereerd.

Coert Kruger jr.

“Ek het my rug op die dak gedraai en in die donker weggestap en wou myself skiet. Ek het my bedink en toe ’n skoot op ’n hoop hout afgevuur.”

Veiligheidswagte het hul flitse op die dak geskyn en Kruger het gehoor hoe sy seun kreungeluide maak. Kort daarna was hy stil.

Nie Kruger, sy vrou of die veiligheidswagte kon op die dak klim nie. Hy is in hegtenis geneem voordat sy seun se lyk afgehaal is.

Coert jr. het ’n geruime tyd ’n dwelmverslawing gehad en by sy pa se huis gaan inbreek. Gesteelde juwele is by hom gekry.

Kruger het sy seun verlede Desember na ’n rehabilitasiesentrum geneem, maar Coert jr. het ontsnap. Pa en seun het daarna min kontak gehad.

’n Bewoë Coert Kruger druk sy ander seun nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy oudste seun, maar ontslag gekry het. Foto: Elizabeth Sejake

Die lykskouing het gewys dat Coert jr. byna dadelik dood gebloei het omdat die koeël ’n slagaar in sy regterdy getref het.

Nadat Kruger se pleit aanvaar is, het Coert jr. se ma, Sharon Taylor, vir vonnisdoeleindes getuig.

Sy het in die getuiebank in trane uitgebars en gesê “niks minder as lewenslank sal regverdig wees nie”.

Taylor het getuig haar eksman is verantwoordelik vir die trauma wat sy die afgelope 25 jaar verduur het.

Sy het gesê haar seun se dwelmverslawing kon voorkom gewees het as dit nie vir swak polisiëring was nie.

Button het in sy uitspraak gesê hy verstaan ’n ma se woede en hartseer, maar hy sien geen doel in langtermyn-tronkstraf vir Kruger nie.

Die voorgeskrewe minimum vonnis vir ’n eerste oortreder wat moord gepleeg het, is 15 jaar.

Button het bevind daar is egter dwingende en wesenlike omstandighede wat hom noop om hiervan af te wyk.

“Ek besef baie mense sal nie met my saamstem nie.”

Hy het na ’n verslag van ’n kliniese sielkundige oor Kruger verwys waarin sy gesê het Kruger ly aan slapeloosheid, ’n gebrek aan eetlus, konstante naarheid, swak konsentrasie, skuldgevoelens, sosiale isolasie, selfmoordneigings en erge nagmerries.

Button het ook verwys na die saak van die oudrugbyspeler Vleis Visagie wat sy dogter in die oprit van hul huis geskiet het.

Die staat het in daardie saak om menslikheidsredes Visagie nie vervolg nie, maar Kruger is wel aangekla.

“ ’n Mens straf nie iemand om hulle terug te kry nie,” het Button gesê.

“As iemand gestraf word, moet dit ’n doel hê en ’n bydrae lewer tot rehabilitasie.”

Button het ook nie die nut daarin gesien om Kruger onbevoeg te verklaar om ’n vuurwapen te besit nie.

Hy het gesê hy sal verbaas wees as Kruger weer aan ’n vuurwapen raak.

Trane het deurgaans oor Kruger se wange geloop terwyl hy in die beskuldigdebank gestaan het.

Taylor was sigbaar ontsteld toe Kruger net ’n waarskuwing gekry het.

Kruger het gister aan Rapport gesê: “As gesin is ons dankbaar en emosioneel oor die uitspraak en wil die Here prys vir Sy genade en almal se gebede. Die ware uitslag is egter steeds rou.

“Dis asof die tragedie net gister gebeur het. Al wat ons nou het is herinneringe en ons moet begin om Boeta se tragiese dood te verwerk. Coert sal met my bly vir solank ek lewe.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Moord  |  Inbraak  |  Dwelmverslawing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.