Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vonnis buite tronk gevra vir krieketknoeier Gulam Bodi

Gulam Bodi (40), ’n voormalige Protea-aanvangskolwer, is ’n geskikte kandidaat vir ’n vonnis buite die tronk, soos korrektiewe toesig.

Gulam Bodi kort ná sy inhegtenisneming verlede jaar. Foto: Deaan Vivier

Dit is luidens die verslag van ’n korrektiewe beampte wat Vrydag by die handelshof in Pretoria ingehandig is.

Bodi het vroeër, in wat ’n eerste strafregtelike vervolging in sy soort in Suid-Afrika is, beken dat hy by krieketknoeiery betrokke was.

Dit kom nadat hy in November verlede jaar skuld beken het op agt aanklagte van “korrupsie wat verband hou met sportgebeure”.

Dit is gepleeg toe hy opgetree het as middelman tussen Indiese knoeiers en “geïdentifiseerde Suid-Afrikaanse krieketspelers” wat destyds gekontrakteer was om in die plaaslike Ram Slam T20-kriekettoernooi van 2015 te speel.

Bodi, wat in Julie verlede jaar in hegtenis geneem is, het erken dat hy van Mei 2015 tot November daardie jaar sekere “belonings” aan die geïdentifiseerde spelers belowe, gegee of aangebied het, terwyl hy met ’n gemeenskaplike oogmerk saam met die knoeiers gewerk het om die “integriteit van sportgebeure” te ondermyn.

Die doel was om die verloop van die spel of die uitslag van ’n wedstryd en/of die toernooi te beïnvloed deur middel van “spot fixing”.

“Spot fixing” is, luidens die klagstaat, die “weddenskap, vir korrupte doeleindes, op sekere gebeure van ’n spesifieke voorval tydens ’n krieketwedstryd waarby daar ooreengekom word om op ’n gegewe tydstip op ’n sekere manier te speel”.

Alviro Petersen, een van dié wat in die “spot fixing”-saak van Gulam Bodi genoem word, was self glo Vrydag in die hof, soos blyk uit sy twiets. Foto: Twitter

Bodi was destyds ’n professionele krieketspeler wat onder meer vir die Lions, Dolphins en Titans gespeel het. Hy het Suid-Afrika ook in enkele eendagwedstryde verteenwoordig.

Hy het in Januarie 2015 sy laaste eersteklaswedstryd gespeel.

Die vonnisverrigtinge teen hom het Vrydag voortgegaan nadat landdros Nicca Setshogoe verslae oor Bodi se drie minderjarige kinders wou hê.

Luidens die verklaring van Bodi se eerste vrou, wat in Durban bly, was hulle van 2002 tot 2005 getroud. Hoewel die beskuldigde nie gereeld sy 14-jarige dogter sien nie, en ook nie meer finansieel tot haar onderhoud kan bydra nie, sal dit emosioneel ’n negatiewe invloed op die kind hê sou hy tronk toe gaan, het die ma gesê.

Sy tweede vrou, met wie hy van 2012 tot 2017 getroud was en wat in Newcastle bly, het gesê hy het daagliks per video-oproep kontak met hul twee seuns van onderskeidelik drie en vyf jaar oud.

Hy dra, wanneer hy kan, finansieel tot hul onderhoud by, en besoek sy seuns ongeveer drie keer ’n jaar.

Luidens die korrektiewe beampte is Bodi nou enkellopend en bly by sy pensioenaris-ma.

Hy het weer ’n werk, is ’n eerste oortreder, gebruik geen dwelms of alkohol nie en is moniteerbaar, sou hy tot korrektiewe toesig gevonnis word.

Bodi se prokureur, Oeloff de Meyer, het hierna weer kortliks na sy betoog ter versagting van vonnis verwys en gevra dat die beskuldigde nié tronkstraf opgelê word nie.

Die staatsaanklaer, adv. Willem van Zyl, het gevra vir tronkstraf en gesê optredes soos dié van Bodi beïnvloed die integriteit van sport en het ’n invloed op borgskappe.

Van Zyl het reeds vroeër gesê die staat sal ook ander krieketspelers wat hierby betrek word, vervolg en Bodi is bereid om as staatsgetuie teen hierdie spelers op te tree.

Bodi sal in Oktober gevonnis word.

Plaaslike krieketknoeiery-skandaal

Die hof het vroeër gehoor dat ’n Indiese sakeman vir Bodi in 2014 gewerf het om ander Suid-Afrikaanse krieketspelers te betrek by “spot fixing”.

Bodi het in Augustus 2015 na Indië gereis waar hy dié knoeiers ontmoet het.

Sekere Suid-Afrikaanse krieketspelers is geïdentifiseer en sou tussen R600 000 en R700 000, sowel as ’n luukse horlosie, ontvang om hulle aan te moedig om saam te werk.

Bodi sou sowat R150 000 per suksesvolle “fix” betaal word.

Hy het agt spelers genader: Ethy Mbhalati van die Titans, Jean Symes, Phumelela Matshikwe, Thami Tsolekile, Lonwabo Tsotsobe en Alviro Petersen van die Lions, asook Vaughn van Jaarsveld en Craig Alexander van die Dolphins.

Van Jaarsveld en Alexander het Bodi se versoeke geweier en het Krieket Suid-Afrika (KSA) daaroor ingelig.

Bodi is in Januarie 2016 deur Krieket Suid-Afrika vir 20 jaar geskors weens sy aandeel in die plaaslike krieketknoeiery-skandaal. Vyf jaar hiervan is opgeskort.

Ook Symes, Matshikwe, Mbhalati, Tsolekile en Petersen is skorsings opgelê vir hul (beweerde) pogings om wedstryde in die plaaslike T20-reeks in 2015 te beknoei.

* Dit blyk uit Petersen se Twitter-rekening dat hy ook Vrydag by die hofverrigtinge was. Hy het, voordat hy soms byna woord vir woord die hofverrigtinge getwiet het, geskryf: “Geagte media – julle het daarin misluk om verslag te doen oor en lojale krieketaanhangers in te lig van die grootste korrupsiesaak in SA – wat of wie probeer julle beskerm? Krimineel Gulam Bodi gaan vandag in die Pretoriase handelshof gevonnis word. Hy en sy tjommies het wedstryde in SA beknoei!! #coverupwillopenup!”

Meer oor:  Protea  |  Gulam Bodi  |  Krieketknoeier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.