Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Voorman op borgtog ná hy ‘mieliedief’ skiet

Mense in die hofgalery in die landdroshof op Viljoenskroon in die Vrystaat het met verontwaardiging gereageer toe die prokureur van die beskuldigde gesê het dit is nie eens seker of ’n minderjarige slagoffer regtig geskiet is nie.

Dawid Senekal, die prokureur van Willem van der Merwe (21), het tydens sy kliënt se borgtogaansoek aan die hof gesê daar is geen bewys in die dossier dat daar wel ’n skietvoorval was nie.

Van der Merwe, ’n plaasvoorman by die Hansie Müller Groep, is sedert 14 Februarie in aanhouding in verband met ’n beweerde skietvoorval op ’n plaas in die distrik.

Hy word van poging tot moord aangekla.

’n 16-jarige seun is volgens die staat met ’n .303-geweer in sy maag geskiet.

Kapt. Paseka Mojaki, die ondersoekbeampte, het getuig Van der Merwe het ná die skietvoorval eers sy werkgewer gebel en nie mediese hulp ontbied nie.

Mojaki het ook aan die hof gesê die beskuldigde het nie die slagoffer na ’n hospitaal gebring nie, maar in die Ramalotsi-township afgelaai waarna sy familie ’n ambulans ontbied het.

Die seun is ná twee dae uit die hospitaal ontslaan.

Mojaki sê Van der Merwe het nie sy samewerking tydens die ondersoek gegee nie en dit is in belang van die gemeenskap dat hy in aanhouding bly.

Die patroondoppie van ’n .303-geweer is agterop die bakkie gekry waarmee Van der Merwe en twee vriende gery het.

Die staat voer aan die seun is met ’n .303-geweer, wat aan Van der Merwe se pa behoort, geskiet.

Senekal het betoog boere is ook deel van die gemeenskap en dat mieliediefstal in die gebied ’n baie groot probleem is. As dit nodig is, sal hy bewys lewer van die omvang daarvan.

Senekal wou weet waarom die mieliediefstal nie ook ondersoek word nie aangesien die staat self sê die seuns was onwettig op die plaas.

Landdros Attie Barnard het in sy uitspraak gesê daar is nie werklik redes om borgtog te weier nie.

Van der Merwe is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy moet sy paspoort inhandig en hom twee keer per week by die polisiekantoor aanmeld.

Hy moet weer op 24 Maart in die hof wees.

* Intussen is die ondersoek na die moord op Meshack Rakaki (31) nog nie afgehandel nie. Rakaki is in Mei 2019 op Kroonstad dood nadat hy en nog makkers glo mielies by die Hoërskool Kroonstad se landbouterrein gesteel het.

Rakaki se lyk is in die gras langs die pad gevind.

Vyf mans, Cornelius Keller (26), die plaasvoorman, en vier veiligheidswagte, Toko Molise (21), Paballo Maselesele (23), Abraham Hlalele (24) en TiisetsoMaseli (25), is in verband met Rakaki se dood aangekla.

Nog geen besluit is geneem of die mans wel vervolg gaan word nie en daar word gewag op ’n besluit van die openbare vervolger.

Meer oor:  Willem Van Der Merwe  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.