Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrae oor borgtog aan vermeende moordenaar

Ernstige vrae hang oor die skielike toestaan van borgtog aan ’n polisielid se seun wat van die moord op ’n bejaarde inwoner van Kroonstad in die Vrystaat aangekla word.

Gert Burger (65) wat in Februarie in Kroonstad vermoor is. Foto: Verskaf

Pheello Rakaki (19) verskyn Woensdag op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede saam met ’n minderjarige in die hof op Kroonstad.

Rakaki, die seun van ’n Kroonstadse polisiebeampte, is in Maart vanjaar borgtog geweier en was in aanhouding.

Tot die familie van die vermoorde Gert Burger (65) se ontsteltenis het hulle verlede maand gesien dat Rakaki met sy hofverskyning vrygelaat is.

JC Schilling, ’n prokureur wat in opdrag van die familie ’n wakende oog oor hofverrigtinge hou, sê Rakaki en sy makker word van moord met voorbedagte rade aangekla.

Volgens Schilling is dit ’n skedule 6-misdryf en die onus rus op die beskuldigde om te bewys daar is spesiale redes waarom hy borgtog moet kry.

“Op sigwaarde kan daar geen rede wees waarom hy borgtog gekry het nie,” sê Schilling.

Schilling sê ná talle navrae aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) kon niemand aan hom verduidelik watter spesiale omstandighede die hof oortuig het om aan Rakaki borgtog toe te staan nie.

Rakaki het glo die hooggeregshof in Bloemfontein genader en is op borgtog vrygelaat.

Schilling sê daar was ook groot verbasing onder regslui by die landdroshof in Kroonstad toe hulle uitvind Rakaki is op borgtog vrygelaat.

Burger is op 23 Februarie in sy motorhuis ingewag en met ’n skerp voorwerp doodgesteek.

Twee dae voor sy moord het Burger se tuinwerker op ’n vreemde man in sy erf afgekom wat oor ’n muur uit die erf gespring het.

Daar was skielik ook ’n mes, ’n skroewedraaier en ’n stuk plastiekseil in die motorhuis.

Nadat hy doodgesteek is, is Burger se lyk in die seil toegebind. Sy moordenaars wou hom vermoedelik iewers versteek.

Sy familie sê hulle vrees nou ook vir hul eie veiligheid, veral nadat hulle gehoor het “Rakaki spog oral dat hy ’n wit man doodgemaak het”.

* Netwerk24 het reeds op 6 Augustus skriftelike navrae aan die NVG gerig. Phaladi Shuping, woordvoerder, kon nog geen redes gee waarom Rakaki op borgtog vrygelaat is nie.

* In Julie vanjaar is Sakkie en Ina van der Berg op ’n plaas buite Boshof vermoor. Lolo Sekgoro (41), wat van die egpaar se moord aangekla word, was ten tyde van die moord op borgtog nadat hy in April 2018 in hegtenis geneem is in verband met die plaasaanval op Japie en Emma van den Berg van Hertzogville.

Sekgoro is ook in die landdroshof borgtog geweier, waarna die hooggeregshof in Bloemfontein borgtog aan hom toegestaan het.

Meer oor:  Pheello Rakaki  |  Gert Burger  |  Kroonstad  |  Moordenaar  |  Roof  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.