Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vragmotors geteiken by De Doorns: 5 in hof

Die vyf mans wat aangekeer is nadat ’n vragmotorbestuurder op die N1 in De Doorns in die Wes-Kaap verlede naweek dood is terwyl sy vrag geplunder is, het Woensdag op aanklagte van diefstal in die plaaslike landdroshof verskyn.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolgings, het bevestig Johan Brown, Thandisile Matingwa, Alfredo de Bruin, Aron de Bruin en Elrico Oliphant word nié aan die moord gekoppel nie.

Hulle verskyn weer op 22 Mei in die hof.

Die vragmotor wat Sondagoggend by De Doorns geplunder is. Foto: Verskaf

Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Ntabazalila het benadruk die aanklagte teen hulle hou verband met die plundery van die vrag klere.

News24 het berig die besending klere was bestem vir ’n bekende kettingwinkel in Kaapstad.

’n Video wat in die kajuit van die vragmotor geneem is en wat op sosiale media gedeel word, wys hoe Christopher Kgomo (46) niksvermoedend bestuur, dan kom die skokkende oomblik wat ’n groot klip deur die voorruit van die vragmotor vlieg en hom van sy sitplek af ruk.

Netwerk24 publiseer nie die video nie, weens die skokkende aard daarvan en omdat dit die oomblikke voor iemand se dood uitbeeld.

Soos vroeër berig, raak die vragmotor dan buite beheer en slaan om en dan storm die plunderaars.

News24 het berig die vragmotor behoort aan Link Cargo en dat Kgomo vir drie jaar vir die maatskappy gewerk het.

Link Cargo het gesê die klip het die stuurwiel getref.

Volgens die medebestuurder, wat die aanval oorleef het, het die plunderaars Kgomo doodgetrap soos hulle op die vrag afgestorm het.

Die medebestuurder het vir sy lewe gevlug.

News24 berig verder die groot klip is omstreeks 05:20 van die Stofland-voetbrug afgegooi.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het Dinsdag in ’n verklaring gesê ’n saak van diefstal is Maandag in verband met die plundery geopen en dat vyf mense in hegtenis geneem is.

Die saak van strafbare manslag wat met die vragmotorbestuurder se dood verband hou, is ook na moord verander. Van Wyk het gesê die ondersoekbeamptes werk onverpoos om die moordverdagtes op te spoor.

Daar is intussen soortgelyke voorvalle aangemeld. Soos vroeër berig, is ’n vragmotorbestuurder Dinsdag teen die kop getref toe sy vragmotor met klippe bestook is.

News24 berig ’n vragmotor van Velox Carriers is op dieselfde plek geteiken.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het bevestig twee vragmotors is die oggend geteiken.

“Ons gaan nou probeer om die verkeerspolisie se sigbaarheid in die gebied te verskerp,” het hy gesê.

Meer oor:  Moord  |  Hof  |  Vragmotor  |  De Doorns  |  Vragmotorbestuurders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.