Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrede-suiwelprojek: OB móét nou bes gee

Alle pogings deur Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), om appèl aan te teken teen die uitspraak van die DA se suksesvolle hersieningsaansoek rondom die omstrede Vrystaatse Vrede-suiwelprojek, het nou misluk.

Dit volg nadat die konstitusionele hof ook Vrydag beslis het dat die OB se aansoek om appèl oor die uitspraak oor die Vrede-suiwelprojek se verslag van die hand gewys word.

Een van die konstruksies op die omstrede plaas buite Vrede in die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

In die saak by die konstitusionele hof waaroor Vrydag uitspraak gegee is, was die OB die applikant en die DA die eerste respondent en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) die tweede respondent.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein, sê in kommentaar die Gupta-gekoppelde Vrede-suiwelprojek is die afgelope sewe jaar al ’n bron van omstredenheid weens bewerings van honderdmiljoene rand se ongerymdhede.

Die DA het die hersieningsaansoek gewen teen die eerste verslag van die OB oor die omstrede suiwelprojek omdat die verslag nie die rol van senior politici in die Vrystaat en die gebrek aan begunstigdes ingesluit het nie.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB). Foto: Argief

Die OB het appèl aangeteken teen die hofbeslissing van regter Ronél Tolmay van die hooggeregshof in Pretoria wat bevind het dat die OB se verslag oor die Vrede-suiwelprojek ongeldig en ongrondwetlik was.

Die OB het by die hooggeregshof, die appèlhof en nou ook by die konstitusionele hof pogings aangewend om appèl aan te teken teen regter Tolmay se hofbeslissing oor haar verslag.

Tolmay het ook destyds in haar hofuitspraak gesê sy meen die OB het nie die saak oor die Vrede-suiwelprojek behoorlik ondersoek nie.

Jankielsohn sê met die beslissing van die konstitusionele hof is dit nou die einde van die pad vir die OB se regspogings om die Vrede-verslag te keer en het sy nie meer ’n ander keuse nie as om ordentlik ondersoek te doen en om ’n verslag op te stel wat dié uitstaande aspekte takel.

Sy sal nou die rol wat senior politici in die Vrystaat gespeel het met die oprigting van die Vrede-suiwelprojek, dít wat verkeerd geloop het en die gebrek aan begunstigdes vir die projek, in ’n volgende verslag moet insluit.

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Argief

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van Casa, het in kommentaar gesê dat die raad verheug is oor die hofbeslissing.

Hy het gesê dit bring ’n einde aan die voortslepende saga rondom die Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat.

’n Kostebevel is boonop teen Mkhwebane toegestaan, het hy gesê.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB se kantoor, het in kommentaar gesê die OB se kantoor is besig om ’n mediaverklaring op te stel en sal dit so gou as moontlik uitreik.

Meer oor:  Ob  |  Busisiwe Mkhwebane  |  Vrede-Suiwelprojek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.