Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vriend getuig oor ‘gholfdag-verkragting’

“Hy het probeer om homself op my af te dwing,” het ’n gasvrou van ’n onthaal ná ’n gholfdag herhaaldelik aan haar metgesel gesê, is in die streekhof in Bloemfontein getuig.

“Sy was duidelik ontsteld. Ek kon sien haar sykouse is geskeur,” het die 45-jarige sakeman, wat die vrou se metgesel was, getuig oor die aand toe Emile Swart (33) van Bloemfontein haar na bewering in die vrouekleedkamer van die Bloemfontein-gholfklub verkrag het.

Emile Swart, met sy rug na die kamera, gesels met sy prokureur, Bertus Jacobs, in die streekhof in Bloemfontein.Foto: ALZANE NARRAIN

Swart, ’n getroude sakeman wat in Kerkstraat in die stad werk, ontken dat hy die vrou (34) die aand van 12 Mei 2015 verkrag het, maar ontken nie dat hy met haar in die kleedkamer seks gehad het nie. Hy beweer dat dit met haar toestemming was.

Die sakeman van Pretoria het voor streeklanddros Jan Greyvenstein getuig later die aand toe sy vriendin verdwyn het, het hy verskeie kere na haar gaan soek.

Sy het aan hom gesê sy gaan toilet toe, maar toe sy vir langer as ’n halfuur weg is, het hy bekommerd geraak en na haar begin soek.

“Ek wou in ’n stadium alarm maak. Ek wou die polisie bel, want ek het gedink sy is ontvoer.”

’n Rukkie later het sy hewig ontsteld aangestap gekom, met Swart ’n paar treë agter haar.

Sy het gesê “ons gaan f****n nou ry”, en op pad huis toe het sy herhaaldelik gesê “hy (Swart) het homself op haar probeer afdwing”.

Die man het getuig dae later het sy hom vertel dat Swart haar verkrag het en dat sy ’n saak teen hom aanhangig gaan maak.

Hy het in kruisondervraging deur adv. Johann Nel SC getuig hy is nooit by die vrouekleedkamer in om haar daar te gaan soek nie.

“Die deur was toe en die ligte af. Ek wou nie aan die deur voel of haar naam uitroep nie, want ek wou nie soos ’n verdagte persoon lyk nie.”

Die man het gesê op pad huis toe het hy haar nie oor die gebeure uitgevra nie.

Nel: “Sy sê vir jou iemand het haar probeer verkrag en jy doen niks. Jy vra haar nie wie, wat, waar of wanneer nie. Jy sê nie vir haar om polisie toe te gaan nie.”

Hy het geantwoord: “Miskien is ek net naïef, maar dit is so. Ek het nie gevra nie. Ek glo om te luister is beter.”

Nel tree in opdrag van Bertus Jacobs van Jacobs Fourie-prokureurs vir Swart op. Adv. Tammy McPherson kla aan.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Getuienis  |  Vermeende Verkragting  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.