
Sizwe JikaFoto: Cara-Lee Dorfling
Die kopbeserings wat ’n 86-jarige vrou van Port Elizabeth tydens ’n huisroof opgedoen het, het komplikasies veroorsaak wat uiteindelik tot haar dood gelei het.
Dit was Woensdag die getuienis van dr. Celeste Herbst, ’n patoloog, wat die lykskouing op Ann Smith gedoen het.
Smith is in 2018 dood, minder as ’n maand nadat sy na bewering deur Sizwe Jika en Junior Lungisa in haar huis in Kammapark beroof is.
Jika het by ’n vorige hofverskyning skuldig gepleit op die aanklagte van huisbraak met die doel om te steel.

Ann Smith Foto: Verskaf
In sy pleitverduideliking het Jika die skuld vir die moord op Lungisa gepak en gesê hy het niks met die aanval op Smith te doen gehad nie.
Herbst het in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig Smith is op 28 Mei 2018, die dag van die aanval, gehospitaliseer.
Sy is op 7 Junie 2018 ontslaan uit die hospitaal. Twee dae nadat sy ontslaan is, het sy geval en haar kop teen die vloer gekap.
Op 9 Junie is sy weer in die hospitaal opgeneem. Sy is op 27 Junie 2018 in die hospitaal dood.
Herbst het getuig Smith is dood weens talle komplikasies wat deur haar beserings veroorsaak is.
Weens haar kopbeserings het Smith meningitis, pneumonie, en septisemie opgedoen. Sy het ook bloedklonte ontwikkel.
Sy het getuig die oorspronklike aanval op Smith het tot die gebeure gelei wat haar dood veroorsaak het.
Die staat beweer die beskuldigdes het Smith in die hoofhuis op die erf waar sy in ’n woonstel in Marthastraat, Kammapark, gewoon het, aangeval.
Sy is blykbaar herhaaldelik met ’n hamer oor die kop geslaan.
Jika staan ook tereg vir die moord op Kelly Bain (26) en Anne Ferreira (83). Bain is in Julie 2018 met ’n mes doodgesteek terwyl sy saam met haar maand oue baba by haar huis in Brymore was. Ferreira is in Mei 2018 in Kurmankloofweg, Somerstrand, vermoor.
In al die gevalle was huisroof oënskynlik die motief vir die aanval.
Die saak duur voort.

Junior LungisaFoto: Cara-Lee Dorfling