Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou (92) solank begrawe terwyl kinders in hof twis

Die oorskot van ’n oumatjie van Zastron in die Vrystaat het uiteindelik ’n rusplek in die grond gekry te midde van ’n hoftwis tussen haar kinders oor waar sy te ruste gelê moet word.

Oor hoe lank sy daar in die graf in Zastron gaan lê, sal net die tyd leer, want die hofgeveg of oor sy daar gaan bly en of sy op Sterkspruit langs haar oorlede man begrawe moet word, word eers volgende maand bereg.

Intussen het die begrafnisondernemer Thusano Funeral Parlour vandeesweek ’n hofbevel in die hooggeregshof in Bloemfontein gekry dat hy Rosina Qithi (92) vir eers in Zastron moet begrawe.

Dit is Donderdag gedoen.

Luidens hofstukke is sy al op 21 Mei dood en ’n gesondheidsinspekteur dreig al van vroeg vandeesmaand af om dié begrafnisonderneming in Zastron te sluit omdat haar ontbindende oorskot ’n gesondheidsgevaar ingehou het. Die reuk was glo ook ondraaglik.

Sy was al op 1 Junie op pad graf toe toe die balju met ’n hofbevel op haar begrafnisdiens in die NG kerk op die dorp opdaag het wat haar begrafnis voorlopig verbied het.

Dit is deur haar een dogter, Buyiswa, en seun, Sipho, in die hooggeregshof aangevra.

Een van haar ander twee dogters, Cecilia, het dié begrafnis gereël.

Die lyk is toe terug na Thusano se yskas op die dorp geneem, waar sy tot vandeesweek gelê en die ontbinding so erg geraak het dat die plaaslike gesondheidsinspekteur ingegryp het.

Buyiswa sê in ’n hofverklaring dat sy kort ná haar ma se dood op ’n familievergadering in Zastron deur Cecilia aangerand is. Hul ander suster, Nontsizi, was ook daar.

Sy en haar broer betwis die testament waarmee Cecilia na vore gekom het en waarvolgens Cecilia alles erf en hul ma in Zastron begrawe moet word.

“Ons ma het al vier haar kinders ewe lief gehad. Sy sou nie net een die enigste begunstigde gemaak het nie.”

Haar ma het vir haar en almal gesê sy wil in Sterkspruit langs haar oorlede man begrawe word, sê Buyiswa.

Sy het ’n graf langs syne in die Qithi-deel van die begraafplaas gekoop.

Die Qithi-familie is Xhosas van koninklike afkoms. Dit is ’n Xhosa-gebruik dat ’n vrou langs haar afgestorwe man “slaap” (begrawe word), sê sy.

Adv. Anton Roux het in opdrag van Rossouw-prokureurs vir Thusano opgetree. Adv. Jaco van der Merwe het in opdrag van Motaung-prokureurs vir Buyiswa en Sipho opgetree, en Gerhard Strauss van Dippenaar en Crous-prokureurs het vir Cecilia en Nontsizi opgetree.

Meer oor:  Thusano Funeral Parlour  |  Rosina Qithi  |  Vrystaat  |  Zastron  |  Begrafnis  |  Hoftwis  |  Oumatjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.