Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou eis duisende ná polisielede haar glo aanrand

’n Vrou wat glo so hardhandig deur polisielede behandel is dat sy ’n noodoperasie moes ondergaan, dagvaar die minister van polisie vir byna R160 000.

Annemarie Eksteen dagvaar die polisie nadat sy glo aangerand en onregmatig aangehou is. Foto: Verskaf

Annemarie Eksteen (57) voer in hofstukke aan dat vier vrouelede van die Garsfontein-polisie in Pretoria haar in Junie 2016 aangerand, onregmatig in hegtenis geneem, kwaadwillig vervolg en van haar persoonlike besittings beskadig het.

Die polisie staan die eis teen.

Luidens die besonderhede van vordering het die beweerde aanrandings op 11 Junie 2016 gebeur toe Eksteen na die polisiekantoor is om ’n dokument te toon wat hulle wou sien.

Carel Taute, Eksteen se prokureur, het in die regsdokumente die volgende geskryf: “Gemelde aanrandings het op verskillende tye en deur verskillende beamptes plaasgevind oor die lyf van eiser. Die aanrandings het ingesluit die stamp van die eiser dat sy omval en die sleep van die eiser. Die eiser het beserings opgedoen soos per aangehegte mediese vorm.”

In die proses is haar ontwerpershorlosie en -handsak, sowel as haar selfoon, beskadig.

Eksteen se bril was ook weg nadat sy geval het.

Sy is daardie Saterdag glo ure aangehou en toe gewaarsku om die Maandag in die gemeenskapshof in Hatfield op ’n aanklag van aanranding te verskyn.

Die saak is nooit eens op die hofrol geplaas nie.

Eksteen het vertel dat ’n sekere vrouekonstabel haar daardie dag gebel het.

“Toe ek sê ek is op pad, het sy op my begin skree. By die polisiekantoor aangekom, is ek na ’n kantoortjie gestuur.”

Die konstabel het saam met nog ’n vrouekollega ingekom.

Een van die bloukolle en skaafmerke wat Annemarie Eksteen aanvoer sy ten tyde van ’n aanranding deur polisievroue opgedoen het.Foto: Verskaf
Die plek waar Annemarie Eksteen glo vir ure by die Garsfonteinse polisiekantoor aangehou is.Foto: Verskaf

“Met die intrapslag het die konstabel vir my gesê: ‘You white b*tch, why did you scream at me on the phone?’

“Ek het ontken dat ek op haar geskree het. Een van die vroue het teenaan my kom staan en so geskree dat die spoeg gespat het.

“Ek het my hande voor my gesig gelig om te keer. Toe skree die polisievrou dat ek haar aangerand het!”

Volgens Eksteen het die konstabel haar toe so gestamp dat sy onder ’n tafel ingeskuif het.

“Die kantoordeur was toe. Een van die vroue het ’n wapen in haar holster gehad en toe kom ’n derde vrouelid in. Ek wou uithardloop, maar was bang hulle skiet my.”

Nadat Eksteen regop gekom het, is sy glo weer gestamp.

“Ek het op die grond gelê. Ek was in ’n toestand. Hulle het bly sê ek het ’n polisielid aangerand. Ek het vertel ek het kanker gehad en vyf operasies vir ’n senuwee wat ten tyde van die mastektomie beskadig is. Ek het gewys ek het ’n mastektomie gehad. Ek het gesê ek ervaar steeds baie pyn en gebruik medikasie.”

Toe word sy glo toegesnou: “All you whites are on medicine. We will give you some . . .”

Hierop het hulle Eksteen na ’n sel gevat.

Ek was bang. Ek wou nie toegesluit word nie. Ek het aan ’n paal vasgegryp – met my beseerde regterarm. Hulle het my bly trek.

“Ek was bang. Ek wou nie toegesluit word nie. Ek het aan ’n paal vasgegryp – met my beseerde regterarm. Hulle het my bly trek.”

Eksteen het weer geval.

“Toe sleep hulle my aan die arm oor die vloer tot waar hulle my toesluit. Dit was winter. Ek was in daai hokkie, op die sementvloer sonder my medikasie, sonder ’n trui, sonder kos, sonder ’n toilet.”

Sy is om 21:00 vrygelaat en gewaarsku om daardie Maandag in die hof te verskyn.

Nadat die aanklaer geweier het om die saak op die hofrol te plaas, is Eksteen dokter toe.

Die Dinsdag moes sy ’n noodoperasie vir die senuwee in haar arm ondergaan.

Meer oor:  Pretoria  |  Polisie  |  Aanranding  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.