Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou eis R2 m. van kollega oor geskinder op kantoor

’n Vrou dagvaar haar oudkollega vir R2 miljoen weens beweerde kantoorskindery dat sy MIV-positief is.

Lynne Cumming (38), wat by die Nasionale Loterykommissie in Kaapstad werk, is veral ontstig daaroor dat ’n kollega glo vertel sy slaap rond en versprei die virus in die werkplek. Al die stellings is vals, sê sy.

Ndivhuwo Caroline Radzilani

Die balju kan Ndivhuwo Caroline Radzilani nie in die hande kry nie en die hooggeregshof in Pretoria het nou beveel dat Cumming haar dagvaarding op ander maniere op haar kan beteken.

Cumming mag die dagvaarding na Radzilani se Facebook-blad of Gmail-adres stuur, of dit na die Loterykommissie, as Radzilani se werkplek, e-pos. Die kommissie het aan Rapport gesê Radzilani het sy diens verlaat. Sy het in hul kantoor in Hatfield, Pretoria, gewerk.

Cumming sê in hofstukke Radzilani se lasterlike en valse bewerings oor haar het in 2011 begin toe sy aan kollegas gesê het Cumming is MIV-positief. En dat sy promisku is en “probeer om ander mense met die MI-virus aan te steek”.

Cumming het ’n klag by hul menslike hulpbronbeampte ingedien.

Albei vroue is in Desember 2011 berispe oor ’n stryery in ’n oopplankantoor. Daarna het ’n bestuurder hulle ingeroep om die kwessie op te los. Haar kollega het op 10 Desember 2011 om verskoning gevra en die strydbyl is begrawe.

Maar ’n jaar later het onenigheid weer begin toe Cumming ’n getuie was in ’n tugverhoor waarby Radzilani en ’n toesighouer betrokke was.

Radzilani het glo voor die voorsittende beampte die MIV-storie herhaal en gesê Cumming het met ’n grootkop van die kommissie geslaap en “doelbewus MIV versprei”.

Sy het kapsie gemaak en toe ’n skriftelike klag teen Radzilani ingedien. Nóg ’n klag is dat haar kollega haar glo verder sleggesê het toe Cumming in 2013 ’n grief teen ’n manlike kollega ingedien het.

Radzilani het toe glo gesê Cumming is “boos” en wil dié man skade berokken.

Boonop het Radzilani glo die laster op Facebook voortgesit.

Al dié gebeure het haar reg op waardigheid en aansien geskaad. Sy moes selfs ’n beskermingsbevel teen Radzilani in Kaapstad bekom. En selfs daarna het Radzilani verder op Facebook losgetrek, sê Cumming.

In ’n inskrywing wat by die hof ingedien is, skryf Radzilani sy is vies dat sy haar in die hof moet gaan verdedig teen die beskermingsbevel.

“Wat? Want sy het aan my gesê sy versprei vigs? Ek is die sondaar? Net in Suid-Afrika! Ons is ver weg van beskawing!” lui die inskrywing.

Cumming wou nie kommentaar lewer oor die eis nie en Radzilani kon nie vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.