Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou eis R900 000 nadat honde haar byt

’n Vrou van Bloemspruit by Bloemfontein eis R900 000 van die eienaar van vier boerboelhonde wat haar toegetakel en erg gebyt het.

Clinette Swartz (25) van Lakeview het verskeie beserings aan haar lyf en bytwonde aan haar arms en bene opgedoen toe die honde haar die oggend van 23 April verlede jaar aanval, lui haar eis in die Vrystaatse hooggeregshof.

Patrick Fortuin, die eienaar van die honde, sê in sy verweerskrif die honde ken vir Swartz en sou haar nie gebyt het as hulle nie geterg is nie. Sy was ’n huurder van ’n huis op sy hoewe op die ou Thaba Nchu-pad.

Luidens Swartz se eis het sy in ’n pad op die hoewe buite Fortuin se erf geloop toe die honde haar aanval.

Fortuin was nalatig deurdat hy nie toegesien het dat die hek van sy erf toe is om te verhoed dat die honde uitkom nie. Hy moes geweet het dat die honde kwaai kan wees en mense sou aanval.

Sy is in die Pelonomi-hospitaal in die stad opgeneem, waar sy sowat twee maande lank behandel is. Sy moet nog verdere mediese en ook sielkundige behandeling kry. Dié behandeling sluit ook plastiese chirurgie in om van die letsels weens die bytwonde te verwyder.

Sy eis R200 000 vir toekomstige mediese koste, R500 000 vir algemene skade en pyn en lyding, en R200 000 vir verlies aan lewensgenietinge en skending.

Fortuin sê in sy verweerskrif die teef onder die vier het kort voor die beweerde voorval kleintjies gekry. Die honde, wat as waghonde aangehou word, is vriendelik teenoor sy gesin en mense wat hulle ken.

Hulle het Swartz goed geken. Sy het hulle gereeld kos gegee.

Hy ontken dat hulle haar sommer net sou aanval en byt. Indien dit wel sou gebeur, moes hulle geterg gewees het.

Adele Prinsloo van Honey-prokureurs is Swartz se prokureur. Anton Noordman van Noordmans-prokureurs is Fortuin se prokureur.

Meer oor:  Patrick Fortuin  |  Clinette Swartz  |  Bloemspruit  |  Bloemfontein  |  Honde  |  Hondbyt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.