Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou gee eie honde glo gif in sodat moordenaars man kan skiet
Wyle Ntau Lucas Mokoena.Foto: FACEBOOK

’n Vrou van Bloemfontein het na bewering haar eie honde vergiftig sodat drie huurmoordenaars haar man sonder enige probleme in hul huis kon doodskiet.

Kelebogile Louisa Mokoena (51), ’n verpleegster, het Donderdag haar formele aansoek om borgtog in die Bloemfonteinse landdroshof laat vaar.

Sy staan tereg op die moord op haar man, Ntau Lucas Mokoena (51), ’n opkomende boer en taxibaas, die aand van 8 Julie in hul huis in Fichardtpark in die stad.

Die huis in Fichardtpark, Bloemfontein, waarin Ntau Lucas Mokoena doodgeskiet is. Foto: André Damons

Die staat beweer sy het drie huurmoordenaars gekry om haar man te vermoor.

Sy het vlugtig voor landdros Ryan Ishmail op ’n aanklag van moord verskyn voordat haar verhoor vir verdere ondersoek tot volgende maand uitgestel is.

Sy bly in aanhouding.

Na wat verneem word, het Mokoena na bewering op die dag van die moord hul honde gif ingegee sodat hulle nie sou blaf wanneer die huurmoordenaars hul erf in Schnehagesingel sou binnegaan nie.

Kelebogile Louisa Mokoena met haar vorige verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof.Foto: ALZANE NARRAIN

Nadat die honde gevrek het, het sy glo die hek en voordeur oopgelos sodat die drie mans kon ingaan.

Aanvanklik is beweer dat die mans Ntau in die badkamer ingewag en oorval het. Die egpaar is glo in hul slaapkamer vasgebind voordat Ntau voor sy vrou in die kop geskiet is.

Na wat verneem word, het die egpaar geruime tyd reeds huweliksprobleme ondervind.

Die aand voor die skietery het sy glo ’n deposito aan die huurmoordenaars betaal en sy sou later die res van die geld oorhandig.

Mokoena is ’n dag ná die voorval in hegtenis geneem.

Die drie vermeende huurmoordenaars is nog op vrye voet.

Johan de Vries kla aan.

Adriaan Janse van Rensburg van Phatshoane Henney-prokureurs tree vir Mokoena op.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.