Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou in hof nadat windbuks man eis
Sandra Swart (30) word van moord aangekla. Foto: Facebook

Claude Lombard se vrou het hom Sondag laatmiddag gevra of hy saam met haar wil ry.

Hy het geantwoord hy wil nie, want hy wil chloor in die gemeenskaplike swembad vir huurders op die kleinhoewe gaan gooi. So vertel sy niggie, Tokkie du Preez.

Lombard (49) is kort hierna vermoedelik met ’n windbuks by die einste swembad doodgeskiet.

Sandra Ellen Swart (30), wat op dieselfde hoewe naby Olympus in die ooste van Pretoria woon, is kort daarna op ’n klag van moord in hegtenis geneem.

Sy is sedertdien in aanhouding en het Dinsdag in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Daar is vroeër beweer dat Swart Sondagmiddag ’n rumoerige huurder by die swembad telkens moes gaan stilmaak totdat sy haar glo vererg en ’n skoot met ’n windbuks afgetrek het.

“Sandra is swaksiende sonder haar bril. Dit klink meer vir ons of sy eerder net lukraak ’n soort waarskuwingskoot afgevuur het. Volgens ons inligting was daar ook drankbottels by die swembad,” het mense na aan die beskuldigde aangevoer.

Swart het blykbaar nie eens geweet dat sy Lombard getref het nie, totdat die ambulans opgedaag en sy in hegtenis geneem is.

Met haar verskyning Dinsdag in die hof het Kagiso Rancho, staatsaanklaer, gesê hoewel Swart se adres bevestig is, is daar nog inligting wat die staat benodig voordat ’n borgtogaansoek aangehoor kan word.

“Die staat moet nog die beskuldigde se profiel (wat onder meer bepaal of sy enige vorige veroordelings en/of uitstaande sake het) bekom en bepaal of hierdie ’n moord met voorbedagte rade was,” het hy gesê.

Latham Dixon, Swart se prokureur, het hierop geantwoord: “Hierdie kom as ’n skok. Ek het gister (Maandag) die ondersoekbeampte gekonsulteer, wat toe gesê het die beskuldigde se vrylating op borgtog sal nie teengestaan word nie.”

Die saak is toe tot later die maand uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek. Swart bly in aanhouding.

Du Preez het ná die tyd gesê niemand van hulle was by die hof nie.

“Sanet, Claude se vrou, is in ’n toestand. Hulle is nog nie eens twee jaar getroud nie. Hulle was so ’n oulike paartjie, baie lief vir mekaar.

“Claude sou sy laaste brood vir iemand gee. Hy het so ’n sagte hart gehad, hy is die soort wat sou huil oor ’n dooie hond langs die pad,” sê Du Preez.

Claude Lombard (49) is dood nadat hy na bewering met ’n windbuks geskiet is. Foto: Facebook

Sanet het haar Sondag van Lombard se dood ingelig.

“Sanet het vertel sy het laatmiddag gery om haar seun by sy werk te gaan haal. Sy het vir Claude gevra of hy wil saamry, toe sê hy nee, want hy wil chloor in die (gemeenskaplike) swembad gaan gooi.

“Hy het ons net twee naweke gelede nog vertel hy kyk na die swembad by die kompleks,” onthou Du Preez.

Volgens haar inligting het Swart by die swembad aangekom en vir Lombard gesê hy mag nie daar wees nie, “want sy huur is nie betaal nie en hy mag nie daar swem nie”.

“Toe skiet sy glo net. Toe Sanet terugkom, sien sy die ambulans, gaan nader en sien vir Claude daar lê. Hy is glo in die mond geskiet, (hy) het ’n paar treë geloop en toe is hy dood,” vertel Du Preez.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

“Daar is net nie geld vir ’n begrafnis nie. Claude is Januarie as blokman afgelê. Hy sou vandag (Dinsdag) vir ’n werkonderhoud gaan,” sê Du Preez.

Sy voeg by dat Lombard as kind aangeneem is. Sy aanneemouers is reeds oorlede en sy niggies en vrou sukkel om al sy familielede op te spoor net om die nuus van sy dood te deel.

“Ons sal seker net ’n roudiensie hou,” sê Du Preez.

Verloop van nog 'n windbuks-voorval

* Intussen wag die polisie en die staat op ’n proefbeampteverslag oor die 16-jarige seun van Dullstroom, Mpumalanga, wat verlede week na bewering sy oupa (63) met ’n windbuks doodgeskiet het.

Die kind is op ’n klag van moord in hegtenis geneem en later in sy ma se toesig vrygelaat.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê ’n hofdatum sal bepaal word nadat hulle die proefbeampteverslag ontvang het.

* Windbuks-skoot kan dodelik wees

Ferdie Joubert, ’n wapeninstrukteur, het vroeër aan Arisa Janse van Rensburg verduidelik dat ’n mens wel iemand met ’n windbuks kan doodskiet, na gelang van die kaliber van die wapen, waar die loodkoeël ’n mens tref en of die wapen met ekstra gas gelaai is.

Hy het verduidelik dat ’n koeël maklik deur die vel kan breek, en as dat dit dan ’n aar tref, kan dit in die bloedstroom opgeneem word of selfs ’n orgaan tref.

“Dit is nie meer die windbukse waarmee ons as kinders gespeel het nie. ’n Mens kry nou ’n windbuks van tot 50 kaliber en daarmee jag mense deesdae selfs grootwild,” het Joubert verduidelik.

’n Mens benodig egter ’n lisensie vir enige wapen met ’n kaliber van .22 of hoër.

Meer oor:  Claude Lombard  |  Aanhouding  |  Moord  |  Windbuks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.