Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou kry R1,68 m. ná moord

’n Veiligheidsmaatskappy moet skadevergoeding van R1,68 miljoen aan ’n weduwee betaal omdat een van sy werknemers haar man vyf jaar gelede by die werk ontvoer en later doodgeskiet het.

Daleen van Staden (44) sê Ronald Khumalo was uit die aard van sy werk as perseeltoesighouer daagliks in haar man se kantoor om sekuriteitskwessies te bespreek.

Op 3 November 2014 het hy Deon, ’n finansiële bestuurder by Bidvest Panalpina Logistics in Isando aan die Gautengse Oos-Rand, vermoor.

Khumalo het vier dae voor die moord die laaste keer by die werk opgedaag, en die maatskappy het gevra dat hy vervang word.

Stallion Security, sy werkgewer, het ingestem, maar Khumalo het steeds ’n lopersleutel gehad. Daarmee kon hy by die gebou inkom sonder om die biometriese vingerafdruk-toegangstelsel te gebruik.

Hy het Deon in dié se kantoor aangehou met ’n vuurwapen wat hy by ’n Stallion-kollega gehuur het. Khumalo, wat geld aan verskeie mense geskuld het, het op R50 000 aangedring.

Volgens hofstukke het Deon geantwoord hy het nie die kluissleutel by hom nie, maar hy het R35 000 – sy daaglikse limiet – uit sy persoonlike bankrekening na Khumalo s’n oorgeplaas.

Khumalo en Deon is in Deon se motor na die Eastgate-winkelsentrum. In die parkeerterrein, terwyl Deon bestuur het, het Khumalo hom doodgeskiet en gevlug. Volgens Khumalo se verklaring het hy toe besef Deon gaan alles aan die polisie uitlap.

Khumalo is kort daarna aangekeer, maar het uit aanhouding ontsnap.

Daleen het op die noodlottige dag net voor 17:00 ’n boodskap gekry dat Deon in ’n vergadering is.

Sy het geweet hy sou laat werk omdat dit maandeinde was. Toe sy ’n uur later ’n boodskap stuur, het haar man nie geantwoord nie.

Teen 19:00 was sy rasend van bekommernis. ’n Rukkie later het Daleen se ma laat weet daar was ’n skietvoorval.

Kort daarna het sy gehoor haar man, met wie sy net ’n jaar en twee maande getroud was, is dood.

Daleen sê die uitspraak bring nie vir haar gemoedsrus nie, maar wel ’n mate van afsluiting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.