Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrou kry R450 000 ná ongeluk weens slaggat

’n Vrou van Benoni in Gauteng wat ’n slaggat in ’n pad probeer misry en toe ’n ander slaggat getref het, gaan R450 000 aan skadevergoeding ontvang.

Mara Martha Rina Swart (44) se motor het gerol toe sy op 27 September 2012 ’n slaggat in ’n teerpad in Mpumalanga getref het.

Dít blyk uit ’n regsmediese verslag wat oor Swart vir haar eis teen dié provinsie se LUR vir openbare werke, paaie en vervoer by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Die hof het die LUR Maandag beveel om dié bedrag aan Swart se prokureurs oor te betaal.

As dit nie binne 60 dae gedoen word nie, word rente daarop gehef.

Die LUR se departement moet ook Swart se regskoste vir die hofgeding betaal.

Swart het destyds die ongeluk gemaak toe sy in haar Tata Indica-motor na Piet Retief onderweg was. Sy was naby Dirkiesdorp toe daar “verskeie slaggate” op die pad was, het haar prokureurs in ’n brief aan die LUR gesê.

Sy was nie in staat om “al die slaggate te vermy nie” en haar motor het ’n “verdere/tweede slaggat getref”.

Weens die slag het sy beheer oor die motor verloor en dit het omgeslaan. Daar was aansienlike skade aan die motor en dit was onekonomies om dit te herstel.

Swart het sagteweefselbeserings aan haar nek, rug en regterskouer opgedoen. Daar was ook wonde aan haar voorkop, lui die regsmediese verslag.

’n Ambulans het haar na die Piet Retief-hospitaal geneem, waar die wonde behandel is. Sy was ’n week lank in die hospitaal en is met ’n nekstut ontslaan.

Volgens die verslag het Swart destyds nie gewerk nie. Sy het voorheen onderskeidelik in ’n slaghuis en ’n supermark gewerk.

Sedert die ongeluk het sy nie weer gewerk nie. Sy het wel een keer in ’n vriendin se skof in die supermark probeer waarneem, maar moes ná ’n uur of twee huis toe gaan weens hoofpyn.

Volgens die verslag beïnvloed Swart se beserings haar vermoë om weer te werk. Sy sal nie swaar voorwerpe kan hanteer of “harde handearbeid” kan doen nie.

Haar lewensgehalte en -genieting is matig weens die ongeluk benadeel.

Swart het net minder as R1,4 miljoen van die LUR geëis.

Meer oor:  Vergoeding  |  Hofsaak  |  Paaie  |  Ongeluk  |  Padongeluk  |  Verkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.