Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man ‘wou pistool vat, toe klap skoot'

Margarietha Nortier (60) wou glo haarself met haar pistool skiet toe haar man, adv. Leon Nortier, haar probeer keer het.

Die Nortier-egpaar se huis in Table View. Foto: Marzahn Botha

’n Skoot het in die proses afgegaan en die 59-jarige regsman is noodlottig in die bors getref.

Só sê onberispelike polisiebronne na aan die saak.

Die tragedie het verlede Vrydag kort voor 21:00 gebeur in die egpaar se huis in ’n stil straat in Table View.

Hulle was alleen by die huis.

Margarietha, of Mientel soos vriende haar noem, is kort ná haar man se dood weens sy moord in hegtenis geneem. Sy is vir waarneming verwys, onder meer omdat daar kommer was dat sy haarself skade sou aandoen.

Vrydag is sy ná ’n week van aanhouding in die Pollsmoor-gevangenis se hospitaalafdeling op borgtog van R10 000 vrygelaat. Een van die voorwaardes vir haar borgtog is dat sy vir sielkundige waarneming na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal in Observatory, naby Kaapstad, gaan.

Mientel en Leon Nortier. Foto: Facebook

Sy is voorlopig in ’n ander kliniek opgeneem weens ’n tekort aan beddens by Valkenberg.

’n Buurman van die Nortiers het Donderdag aan Rapport gesê hy het die skoot om 20:55 hoor afgaan.

Nóg ’n buurman het ook die skoot gehoor, maar gedink dat dit van die rekenaarspeletjie kom wat sy seun op daardie tydstip gespeel het.

’n Jare lange vriend van die beskuldigde, wat verkies dat sy naam nie gepubliseer word nie, sê Mientel se jonger suster het jare gelede haar eie lewe geneem.

Mientel kom uit ’n baie hegte gesin wat in die Boland met aartappels boer. 

Volgens hom was daar die laaste tyd baie spanning in die huis in Table View. Die egpaar se 31-jarige seun is vroeër vanjaar in ’n psigiatriese inrigting opgeneem.

Adv. Leon Nortier (59).
Margarietha (Mientel) Nortier (60).

Nortier het ook in die laaste tyd baie weg van die huis gewerk.

Die vriend het Mientel in April laas net in die verbygaan gesien en hy sê dit het toe vir hom gelyk iets is nie pluis nie.

Mientel het onlangs onverwags haar werk as onderwyseres by ’n private skool bedank.

“Dit alles moes vir haar baie swaar gewees het. Ek bedoel, sy het nie eens my boodskappe beantwoord nie,” vertel die vriend.

“Omdat ons mekaar baie lank geken het, kon ek opmerk daar was dae wat Mientel baie ongelukkig was. Sy het opmerkings gemaak, maar sy het nooit gekla teenoor my nie.”

Hy was een aand by die Nortiers aan huis en toe het Mientel gesê sy is baie kwaad vir Leon.

Sy het gesê hy drink.

Die vriend sê Leon was bevriend met iemand wat ’n alkoholis is.

“En hy was ook maar met die Covid-19 en al die goed onder druk en dan vat die ou . . . hy drink net whiskey en dan vat Leon nou te veel.

“Ek weet Mientel het ’n geestelike pad begin stap, maar Leon wou glad nie daai pad loop nie.

“Hy het my altyd gechallenge daaroor, maar nooit op ’n lelike manier nie. Hy was ’n baie aangename ou, geweldig, eintlik.”

Leon se broer Heinrich, wat self ernstig siek is, sê die familie gaan nie enige kommentaar lewer nie.

Hy lê in erge pyn en word versorg deur sy 77-jarige ma, sê hy.

Meer oor:  Leon Nortier  |  Mientel Nortier  |  Advokaat  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.