Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vroue eers verslaaf, moes toe dwelms met seks betaal
Natasha Chang, een van die vroue wat aangekla word van deelname aan die aktiwiteite van Shantel Bridger se beweerde bordeelsindikaat, Vrydag buite die landdroshof in Kaapstad. Foto: Lulama Zenzile

Shantel Bridger se taktiek was na bewering om jong vroue, waarvan sommige minderjarig was, afhanklik van dwelms te maak en hulle dan as sekswerkers in te span om vir hul dwelms te kan betaal.

“Uiteindelik het hulle dan net vir hul dwelmgeld gewerk,” sê ’n bron na aan die ondersoek na Bridger se beweerde bordeelsindikaat. Die sekswerkers was almal Wes-Kapenaars en is in verskillende woonstelblokke in Tableview, Milnerton en Parklands aangehou. Hul dienste is op webwerwe geadverteer.

Die ondersoek na die beweerde bordele van Bridger en haar handlangers is die grootste mensehandel- en rampokkerysaak tot nog toe in Suid-Afrika.

Die staatsaanklaer, Helene Booysen, het Vrydag haar hande vol gehad met die groot groep wat verskeie kere in verskillende groeperings in die beskuldigdebank verskyn het. Hulle word vervolg ingevolge die Wet op Georganiseerde Misdaad, dieselfde wet waaronder die bendeleier George “Geweld” Thomas en sy 28-bendefaksie in 2015 skuldig bevind is.

Uiteindelik het hulle dan net vir hul dwelmgeld gewerk.

Bridger (45), haar twee lyfwagte, Achmat Toffa (41) en Fareez Allie (35), en Camilla Amelia de Waal Rossouw (29) is die hoofverdagtes in die misdaadsindikaat wat na bewering in bordeelbedrywighede gewortel is. Hulle het Vrydag in die landdroshof in Kaapstad verskyn saam met Juan Francois Warren (39), Bridger se seun Robin Reyneke (27), haar man, Norman Bridger, en Deanne Collins (33), Natasha Chang en Michael D’Olivier.

Volgens die bron het baie van die vroue wat saam met Bridger gewerk het, as sekswerkers by haar onderneming begin en is later na bestuursposte in die kriminele entiteit bevorder.

Die perseel in Parklands waarop die Valke in Februarie vanjaar toegeslaan het. Foto: Conrad Bornman

Van die groep van tien mense wat Vrydag in die hof verskyn het, het slegs Rossouw na bewering steeds as ’n sekswerker gewerk.

Bridger het tydens haar verskyning telkens vir Warren, wat langs haar in die beskuldigdebank was, geglimlag en haar lang blonde hare oor haar skouer geskud.

Sy word daarvan aangekla dat sy, met behulp van haar werknemers, geld by verskeie hooggeplaaste kliënte afgepers het deur te dreig dat videomateriaal van seksuele aktiwiteite met sekswerkers in die sosiale media versprei sal word. Só het hulle byna R3 miljoen ingewin.

Die seun van ’n bekende Kaapse sakeman was een van hul slagoffers wat na bewering sowat R2,8 miljoen oor ’n paar jaar aan Bridger betaal het.

Of die video’s ooit bestaan het, is onbekend.

Bridger en haar medebeskuldigdes word aangekla van die bestuur van ’n kriminele entiteit, en deelname aan die aktiwiteite van ’n kriminele entiteit, wat aanranding, afpersing, geldwassery, huisbraak, motordiefstal, bedrog, roof en mensehandel insluit. Van haar werknemers word aangekla weens hul deelname aan die aktiwiteite van ’n kriminele entiteit.

Sy en die ander hoofbeskuldigdes is in Februarie in hegtenis geneem nadat die Valke toegeslaan het op ’n huis in Parklands en is sedertdien in aanhouding.

Toffa en Allie het vir hul ondersteuners in die hof geglimlag voordat hulle terug na die selle geneem is. Hulle is voorheen vrygespreek op die moord op Bruno Brönn, eienaar van die gay-nagklub Bronx.

Rossouw, Toffa en Allie gaan in September om borgtog aansoek doen.

Bridger se voormalige huiswerker, Babalwa Nzogqwana, het ook in die beskuldigdebank verskyn. Sy het ’n pleitooreenkoms met die Valke aangegaan en gaan teen Bridger getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.