
Die stof staan soos daar met vee gevlug word nadat ’n boer onraad vermoed het.
’n Pierewaaier-sakeman van Kroonstad, wat gereeld Bybelversies op Facebook deel, ’n beginnerboer en nog twee mense is by Heilbron weens veediefstal aangekeer.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die vier, Paki Molapo (33) Themba Manis (22), Serame Mohaka (43) en Leslie Hayo (46), is reeds van veediefstal aangekla en verskyn weer op 29 Januarie in die hof in Heilbron.
Boere van Kroonstad en Heilbron sê dit is hoog tyd dat die regering beslag lê op die grond van begunstigdes van landbouprojekte wat regeringsplase misbruik om gesteelde vee weg te steek.
“Daar is gereeld probleme met dié plase,” sê Bertus van der Westhuizen, ’n boer van Heilbron en voorsitter van die TLU in die Vrystaat.
“Ons is besig om regsadvies in te win, want dit is tyd dat die staat die grond gee vir mense wat regtig wil boer.”
Ons is besig om regsadvies in te win, want dit is tyd dat die staat die grond gee vir mense wat regtig wil boer.

Van die beeste wat kort nadat hulle gesteel is, weer gebrandmerk is.

Die brandysters waarmee Bornman se beeste gebrandmerk is kort nadat hulle gesteel is.

Themba Manis, ’n sakeman van Kroonstad, word saam met nog drie mense van veediefstal aangekla. Foto: Facebook
Facebook
’n Boer van Heilbron, Jannie Bornman, wat ’n buurman van Mohaka is, het Dinsdagoggend ’n bakkie en sleepwa in Mohaka se plaaspaadjie sien inry. Die voertuie het vir Bornman verdag gelyk en hy het ’n ent weg stilgehou en hulle dopgehou.
Kort hierna het die bakkie en sleepwa gelaai met beeste uitgery gekom. Die sleepwa was volgens Bornman so swaar gelaai dat dit op die middelmannetjie vasgehaak het. Bornman het nader beweeg en gesien die beeste is sy en sy pa, Danie, se vee. Die Bornmans se Simbra-stoetbul was deel van die vrag.
Bornman het hulp ontbied en begin om foto’s van die toneel te neem.
“Een van hulle het my bestorm en gesê hy sal my skiet,” sê Bornman.
Die mans het die sleepwa se hek oopgemaak sodat een van die beeste kon afklim om die sleepwa ligter te maak en het weer terug na die plaas gery. Hulle het dieper die plaas ingevlug, maar die polisie kon hulle saam met Mohaka aankeer.
Bornman sê die polisie het op warm kole en brandysters afgekom. Die Bornmans se beeste was ook reeds van ’n nuwe brandmerk voorsien.
Die waarde van die stoetbul, drie koeie en vier kalwers word op minstens R150 000 geraam, sê Bornman.
Manis, ook bekend as Jazz, is die eienaar van Manis Construction and Holdings in Kroonstad. Hy deel gereeld Bybelverse op sosiale media.
Manis besit ’n plaas wat weerskante van die N1 lê. Boere maak gereeld beweringe teen hom en sake van meer as R1 miljoen se veediefstal word in die Kroonstad-omgewing ondersoek.
Volgens boere van Kroonstad se veediefstalinligtingsentrum is R750 000 se vee in Desember hier gesteel.
Manis se pa, Augustinus Monyale (72), is ’n veroordeelde veedief wat tans tronkstraf uitdien. Monyale is verlede jaar tot agt jaar tronkstraf gevonnis.
Volgens boere hier het Monyale hulle 30 jaar lank geteister voordat hy uiteindelik gevonnis is.