Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrystaat kry nuwe regter-president

Regter Cagney Musi (56), nuwe regterpresident van die Vrystaatse hooggeregshof, is ’n gesoute juris wat sy loopbaan in die regswese as aanklaer begin het.

Hy volg regter Mahube Molemela op wat verlede jaar as regter van die appèlhof in Bloemfontein aangestel is.

Regter Cagney MusiFoto: Mlungisi Louw

Vir regter Musi is die nuwe betrekking nie ’n nuutjie nie.

Sedert sy aanstelling in Januarie 2017 as die eerste adjunk-regterpresident van die Vrystaatse hooggeregshof het hy gereeld as regterpresident waargeneem.

Voor dit het hy ook al met tye in 2015 en 2016 in dié pos waargeneem.

Dié boorling van Springs in Gauteng het die trappe in die regswese in 1986 as aanklaer begin klim en is in 1992 as landdros aangestel en in 1997 tot streeklanddros bevorder.

In 2004 is hy as waarnemende regter in die Noord-Kaap aangestel en in Junie 2005 as regter in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein.

Sedertdien het hy met tye as regter in die arbeidshof, arbeids-appèlhof en die konstitusionele hof waargeneem.

Hy het ook sedert 2010 as regter in die hooggeregshof en die arbeidsappèlhof in Lesotho waargeneem.

Regter Musi het eers ’n diploma in die regte en daarna die grade BA regte, BA (Hons) en LLB aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf.

Hy het ook ’n LLM-graad in 1995 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

In 2001 is hy as prokureur toegelaat.

Benewens die verskeie posisies wat hy deur die jare in verskeie regsorganisasies beklee het, is regter Musi die ere- visepresident van die internasionale vereniging van landdroste en regters, ’n vereniging waarvan hy van 2006 tot 2010 die president vir die Afrika-streek was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.