Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vrystaat-ma tronk toe vir poging tot moord

Die ma van ’n driejarige dogtertjie, wat in 2019 met drie skedelfrakture, bloeding op die brein en ’n gebreekte arm in die hospitaal opgeneem is, is tot 14 jaar tronkstraf gevonnis.

Die vrou is Maandag ingevolge ’n pleitooreenkoms in die rondgaande hof in Virginia gevonnis.

Die kind, wat saam met haar ma en jonger halfsuster in Virginia gebly het, was twee jaar oud toe sy en die sussie uit hul ma se sorg verwyder is.

Regter Fouché Jordaan het die vrou tot 14 jaar tronkstraf vir poging tot moord, tien jaar elk op twee aanklagte van ernstige aanranding en twee jaar vir kinderverwaarlosing gevonnis. Sy sal die vonnisse samelopend uitdien.

Jordaan het beveel dat geen kinders weer in haar sorg mag wees nie.

Die vrou het erken sy het haar dogtertjie se hand onder kookwater in ’n wasbak gehou het omdat die kind glo nie geluister het toe sy haar gewaarsku het dat die water haar kan brand nie. Die kind het tweedegraadse brandwonde opgedoen.

Die tweede klag van ernstige aanranding hou verband met ’n voorval waartydens die ma die kind, wat nie haar kos wou eet nie, op die grond neergegooi, op haar gesit en met ’n lepel kos by haar mond ingedwing het. Toe sy begin naar word, het sy vir die kind gesê sy sal haar eie braaksel moet eet.

’n Mansvriend van die ma het tussenbeide getree, maar sy het aan hom gesê dat dit nie sy kind is nie.

Die meisie se mond het hierna gebloei en van haar tande is gebreek.

Die kind se pa het glo by meer as een geleentheid hulp by maatskaplike werkers gevra, maar daar is nie daadwerklik ingegryp nie.

Op 29 Oktober 2019 het die meisie haar jonger suster geterg. Die ma het die tweejarige dogtertjie so hard gestamp dat sy met haar kop teen die vloer geval het.

Sy het die huilende kind se kop aanhoudend teen die vloer geslaan totdat sy ophou huil en daar skuim by haar mond uitgekom het.

Die ma het haar hierna so hard aan haar voorarm gegryp dat haar arm gebreek het.

Die vrou het haar ma gebel wat saam met haar na ’n huisdokter in Virginia is. Dié het gereël dat die kind onmiddellik in die Mediclinic Welkom opgeneem word.

Haar toestand was egter so ernstig dat sy na die Mediclinic Bloemfontein oorgeplaas is waar sy ’n noodoperasie moes ondergaan om haar lewe te red.

Die vrou het ter versagting aangevoer dat sy self ’n traumatiese kinderlewe gehad het. Haar pa was onder meer in die tronk vir moord en is later onder verdagte omstandighede dood. Sy het ’n stiefpa gehad wat haar seksueel mishandel het en haar ma het versuim om op te tree.

Dawie Reyneke het vir die ma opgetree, adv. Amanda Bester het aangekla en kapt. Liezel Goosen het die voorval ondersoek.

Die meisies is in die sorg van hul onderskeie biologiese pa’s geplaas.


Meer oor:  Virginia  |  Vonnis  |  Gesinsgeweld  |  Hof  |  Aanranding  |  Kindermishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.