Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Waar kom die bloed dan vandaan?’

Gerhard Papenfus kon Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria nie verduidelik waar bebloede kledingstukke met Danie Dreyer se bloed daarop vandaan kom nie.

Volgens hom het hy “geen bloed gesien” toe hy op 28 Maart 2016 glo noodhulp op die afgetrede polisielid en oud-Springbok-stoeier toegepas het nie.

Papenfus ontken dat hy en sy drie medebeskuldigdes, Estelle Reddy, Kevin Johnson en Ruvan Furst, Dreyer (63) beroof en vermoor het.

Hy en Reddy het wel reeds in hul getuienis erken dat hulle die lyk eers onder Dreyer se bed en later in ’n mangat versteek het.

Papenfus hou vol dat Dreyer aan ’n hartaanval dood is toe die mans daar aangekom het om die troeteldiere op Reddy se versoek kos te gee. Dreyer se lyk was so ver ontbind toe dit ’n week later gevind is, dat die oorsaak van sy dood nie bepaal kon word nie.

Estelle Reddy (36), Gerhard Papenfus (42), Kevin Johnson (31) en Ruvan Regionald Furst (42) vroeër in die landdroshof in Pretoria. Foto: Theana Breugem

Adv. Arno Rossouw, die aanklaer, het Woensdag in kruisondervraging aan Papenfus gesê die polisie het ’n T-hemp, broek, sokkies en rooi onderklere met Dreyer se bloed daarop in ’n vullisdrom gekry.

Toe die beskuldigde aanvoer dat hy niks daarvan weet nie, het regter Bert Bam verwys na Reddy se vroeëre getuienis dat daar glo soveel bloed in Dreyer se kamer was, dat sy dit moes skrop om dit te probeer wegkry. Hy het ook foto’s van die kolle bloed aan Papenfus gewys.

Papenfus het volgehou dat dit brandkolle is nadat hulle die kamer aan die brand gesteek het om bewysstukke te vernietig.

Adv. Isaac Phetoe, vir Johnson, het in sy ondervraging van Papenfus dit aan hom gestel dat Johnson gedink het hulle gaan na ’n vriend van Papenfus om dwelms te gebruik. ’n Man (Dreyer) het uit ’n kamer gekom, gevra wat hulle in sy huis soek, en toe het Papenfus, volgens Johnson, hom met ’n koperpan geslaan.

“My kliënt sê jy het die oorledene ’n noodlottige besering toegedien toe jy hom met ’n koperpan aangerand het.”

Johnson het glo vir Dreyer “bloeiend” op die vloer sien lê terwyl Papenfus noodhulp op hom toegepas het.

Papenfus het dié weergawe ontken.

Die regter wou toe by Papenfus weet hoekom hulle Dreyer se dood probeer wegsteek het as hy regtig aan ’n hartaanval dood is en of die beskuldigde se ma daarvan geweet het aangesien die lyk later in ’n mangat by haar buurhuis gegooi is.

“Nee, ek het tjoepstil gebly. My ma het niks geweet nie,” het Papenfus geantwoord.

Bam het toe verwys na polisiegetuienis dat polisielede die reuk van ontbinding bespeur het toe hulle by die huis aangekom het.

“ ’n Mens het net iets geruik as die wind reg waai. Ek het gedink dis hondestr*nt – askies, hondedinges – en eers besef wat dit is toe die polisie die mangat oopgemaak het,” het Papenfus geantwoord.

Die verhoor duur Vrydag voort.

* Furst se saak is Woensdagoggend van die ander beskuldigdes s’n geskei weens sy gesondheidsprobleme. Hy het glo reeds twee beroertes gehad en hy ly aan ’n mate van demensie. Bam het bevind dat al die vertragings weens sy toestand nie in die belang van geregtigheid is nie. Die verhoor teen Furst sal in September voortgaan.

Al vier die beskuldigdes is in aanhouding.

Meer oor:  Gerhard Papenfus  |  Estelle Reddy  |  Mangat-Moord  |  Bloed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.