Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wainstein glo vermoor ure ná dreigement oor foon

Brian Wainstein, sogenaamde steroïedekoning van Kaapstad, is vermoor ure nadat hy na bewering op 17 Augustus 2017 in ’n telefoongesprek gedreig het om ’n vermeende betrokkene in die Kaapstadse onderwêreld “dood” te maak en hom te “vernietig.”

Die gesprek tussen Wainstein, Mark Lifman (53) en nog iemand is sowat drie jaar gelede in die borgtogaansoek van Nafiz Modack, Colin Booysen, Ashley Fields, Jacques Cronje en Carl Lakay in die landdroshof in Kaapstad deur Lakay se regsverteenwoordiger gespeel.

Jerome Booysen, Mark Lifman (middel) en Williams Stevens (regs) kort nadat hulle elkeen borgtog van R100 000 betaal het. Foto: Adrian de Kock

In die opname wat destyds in die hof gespeel is, kon ’n gesprek tussen Lifman en nog iemand gehoor word. ’n Derde stem onderbreek dan die gesprek.

Rooshdeen Rudolph, Lakay se regsverteenwoordiger, het toe gesê die derde stem is dié van Wainstein. ’n Mens kon hoor hoe hy op Lifman skree, hom beledig en dan dreig dat hy hom gaan “doodmaak” en “vernietig”.

Jerome “Donkie” Booysen kom by die landdroshof in Kaapstad aan. Foto: Adrian de Kock

Wainstein is die volgende dag, op 18 Augustus 2017, kort ná middernag in sy huis vermoor. Hy het langs sy lewensmaat en hul dogter gelê en slaap toe hy vier keer in sy kop geskiet is.

Sy lewensmaat en hul dogter is ongedeerd gelaat.

Mark Lifman, een van die vermeende betrokkenes in die Kaapse onderwêreld, kom by die landdroshof in Kaapstad aan. Foto: Adrian de Kock

Lifman, Jerome “Donkie” Booysen (56) en William “Red” Stevens (66) het hulself Dinsdag kort ná 06:30 by die polisiekantoor in Kaapstad aangemeld nadat hulle bewus geraak het van lasbriewe wat uitgereik is vir hul inhegtenisneming.

Hulle is aangekla en na die hof gebring waar hulle verskyn het op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, moord en geldwassery.

Aanvanklik is berig dat hulle in hul huise in onderskeidelik Kaapstad, Bellville-Suid en Kraaifontein in hegtenis geneem is.

Foto:

Lifman, geklee in ’n swart T-hemp en blou denimbroek, het met hul verskyning in die beskuldigdebank, twee keer na die openbare galery gekyk en na die mense gekyk.

Booysen, geklee in ’n wit T-hemp en blou denim het ontspanne gelyk en het kort-kort iets aan Stevens en Lifman gesê.

Lifman en Booysen is sakevennote en Booysen word alom as die leier van die 26-bende en die Sexy Boys van Belhar beskou.

Mark Lifman met ’n vorige hofverskyning buite die landdroshof in Kaapstad. Foto: Lulama Zenzile

Stevens is volgens bronne met kennis van die 27-tronkbende ’n “gevegsgeneraal” in dié bende in die Wes-Kaap.

Hulle het onmiddellik aansoek om borgtog gedoen en nadat hulle elkeen ’n verklaring ter stawing van hul borgtogaansoek ingedien het, is hulle op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

Die staat het Dinsdag aangevoer daar is getuies wat Lifman, Booysen en Stevens midde-in die misdaad plaas.

Volgens die staat het Lifman vir die sluipmoordaanval op Wainstein betaal. Die geld het hy glo vir Booysen gegee, wat glo op sy beurt Stevens betaal het.

Jerome “Donkie” Booysen by die begrafnis van Noorudien Hassan, ‘n Kaapse prokureur wat vermoor is. Foto: Peter Abrahams/Die Son

Stevens, ’n vermeende hoofleier van die 27-tronkbende, het glo Wainstein se moordenaars, Matthew Breet, Cheslin Adams en Fabian Cupido, almal erkende lede van die 27-tronkbende, se dienste bekom.

Die staat het aan die hof gesê Wainstein se moord is vooraf beplan.

Die drie het in hul borgtogaansoek aangevoer die staat se saak teen hulle is swak. Hulle sê dat hulle nie ’n vlugrisiko is nie, gegewe dat die moord reeds drie jaar gelede plaasgevind het, En toe hulle op 15 Desember 2020 ingelig is dat daar ’n lasbrief vir hul inhegtenisnemings uitgereik is, het hulle hul volle samewerking aan die vervolgingsgesag en die ondersoekbeampte gegee.

William “Red” Stevens Foto: Verskaf

Die hof het gehoor dat Booysen geen misdaadrekord het nie. Lifman is wel voorheen aan nalatige bestuur skuldig bevind, maar dit is volgens hom meer as 20 jaar gelede en is glo uitgewis.

Stevens het ’n misdaadrekord, maar sy laaste skuldigbevinding was in die laat 1990’s of vroeë 2000’s.

Aldrie wou net R20 000 elk vir borgtog betaal.

Lifman en Booysen, beskuldigde nommer een en twee, het aan die hof gesê hulle is sakemanne en het geen probleem daarmee om hul paspoorte by die hof in te dien nie.

Hulle het die hof egter gevra om nie die staat se versoek toe te staan dat hulle in huisarres geplaas moet word nie. Hulle het gesê hulle is betrokke by die ontwikkeling van eiendomme en dit is noodsaaklik vir hulle om kliënte te gaan sien.

Brian Wainstein in 2013 toe hy in die Kaapstadse landdroshof moes verskyn. Foto: Argief
Interpol se foto van Brian Wainstein.Foto: Interpol

Hulle het ook gesê dat hulle hul vuurwapens vir selfbeskerming nodig het.

Die saak is tot 9 Februarie uitgestel vir bykomende aanklagte om bygevoeg te word en om nog mense wat glo by die moord betrek word, by die saak te voeg.

Hulle moet elke Maandag by hul plaaslike polisiekantoor aanmeld en mag ook nie met moontlike getuies inmeng nie.

Kort nadat Stevens se verklaring op die rekord ingelees is, is die borgaansoek onderbreek ná ’n bomdreigement in die hof. Polisiehonde is ingespan om seker te maak daar is geen plofstof in die gebou nie.

• Drie mense is reeds in verband met Wainstein se moord gevonnis.

In Junie vanjaar is Fabian Cupido 25 jaar tronk toe gestuur vir sy aandeel in die moord op die “steroïede-koning”.

Cupido is ná ’n pleit-en-vonnis-ooreenkoms met die staat in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis.

Cheslin Adams is in Maart 2019 25 jaar tronkstraf opgelê vir Wainstein se moord.

Matthew Breet is in Desember 2018 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy ’n pleitooreenkoms aangegaan het waarin hy skuld op ’n aanklag van moord beken het.

Meer oor:  Brian Wainstein  |  Vermoor  |  Dreigement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.