Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wainstein-moord: Nog 8 aangekla

Nog agt vermeende lede van die 27-bende van Kraaifontein en Stellenbosch is Woensdag by die saak teen Mark Lifman en Jerome (Donkie) Booysen gevoeg.

Lifman en Booysen word daarvan aangekla dat hulle lede van die 27-bende gehuur het om Brian Wainstein, die sogenaamde steroïdekoning, te vermoor.

Daar is nou volgens die nuwe gewysigde klagstaat 16 beskuldigdes in die saak. Een van hulle, William (Red) Stevens, vermeende leier van die 27-bende, is verlede week voor sy huis in Kraaifontein vermoor. Sy naam sal van die klagstaat verwyder word sodra die staat sy doodsertifikaat ontvang, het die hof Dinsdag gehoor.

Wainstein is op 17 Augustus 2017 in sy huis in Constantia doodgeskiet terwyl hy langs sy lewensmaat en kind gelê en slaap het.

Benewens die moord op Wainstein word Lifman en Booysen, asook die ander beskuldigdes wat almal vermeende lede van die 27-bende is, nou ook daarvan aangekla dat hulle agter die skietaanvalle op verskeie Kaapse kroeë en nagklubs in 2017 sit.

Lifman, Booysen en Stevens is op 22 Desember verlede jaar in verband met Wainstein se dood in hegtenis geneem en op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

Vyf ander mense – André Naudé, Sam Farquharson, Egan Norman, Jakobus (Mannas) Stevens (William Stevens se neef) en Wayne Henderson, ’n speurder van die Seepunt-polisiekantoor – is Dinsdag in hegtenis geneem en het dieselfde dag op aanklagte van sameswering, aanhitsing om openbare geweld te pleeg, korrupsie, regsverydeling en poging om regsverydeling te pleeg in die hof verskyn.

Rowendall Stevens het Woensdagoggend saam met nog sewe beskuldigdes in die Kaapstadse landdroshof verskyn. Hulle word daarvan verdink dat hulle deel was van ’n samesweringskomplot om die veiligheidsdienste by Kaapse kuierplekke oor te neem. Sy pa, William (Red) Stevens, vermeende leier van die 27-bende, is verlede week in ’n aanval doodgeskiet. Foto: Facebook

Hulle is op borgtog vrygelaat. Naudé is borgtog van R50 000, Farquharson, Norman en Jakobus elk op borgtog van R10 000 en Henderson op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die bykomende agt beskuldigdes wat Woensdag in die hof verskyn het, is Stevens se een seun Rowendall Stevens, Anthony Christopher van der Watt, Ricardo Maarman, Typhyenne Jantjies, Bevan Cedrick Ezaus, Bradley Dubula, Kashief Hansloo en Jason Maits. Hulle is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Dié saak is ook tot 12 Mei uitgestel wanneer hulle na verwagting saam met die ander beskuldigdes in die hof sal verskyn.

Die agt het in die landdroshof in Kaapstad op aanklagte wat verband hou met die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad en die Wet op Oproerige Vergaderings verskyn.

Onder laasgenoemde wet word hulle aangekla van sameswering en aanhitsing om geweld en/of moord te pleeg. Ander aanklagte is intimidasie, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, die verskaffing van ’n vuurwapen aan ’n persoon wat nie bevoeg is om ’n vuurwapen te besit nie en poging tot moord.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle deel was van ’n samesweringskomplot wat in 2017 gesmee is om die beheer van die veiligheidsdienste by Kaapse nagklubs en kroeë te neem uit die hande van Nafiz Modack, Colin Booysen en ander mense wat met hulle verbind word.

Na verneem word, hou hul inhegtenisneming met skietvoorvalle by onder meer Café Caprice in Kampsbaai, Coco Bar in Langstraat, Kaapstad, en Lido Bar in Kaapstad verband.

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.