Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wainstein se moord glo vir maande beplan

Planne om van Brian Wainstein, Kaapstad se “steroïed-koning” ontslae te raak, is volgens die staat reeds so vroeg as Mei 2017 beraam.

Die laaste vergaderings daaroor was glo op 17 Augustus 2017 in Beacon Valley, Mitchells Plain, by ’n bandehandelaar. Die ander vergaderings was glo in Plattekloof, Bellville-Suid en Fresnaye.

Ure ná die vergadering is Wainstein in sy huis in Constantia vermoor. Hy is vier keer in die kop geskiet waar hy langs sy meisie en hul dogter geslaap het.

Sy meisie en dogter is ongedeerd gelaat.

Luidens die akte van beskuldiging teen Fabian Cupido, een van Wainstein se moordenaars, het Cupido, Cheslin Adams en die broers Matthew en Sheldon Breet op 17 Augustus 2017 die laaste keer by Good Hope Tyres in Mitchells Plain vergader.

Kishor Naidoo, ook bekend as Kamal, word deur die Valke gesoek in verband met die moord op Brian Wainstein, Kaapstad se steroïede-koning in Augustus 2017. Foto: Interpol

Kishor Naidoo (49), ook bekend as Kamal en eienaar van die onderneming, was glo ook op die vergadering.

Naidoo was ten tyde van die gebeure die eienaar van die Mitchells Plain-tak en die Observatory-tak van Good Hope Tyres. Adams het glo nog iemand na die vergadering gebring, maar dié persoon het glo nie aan die vergadering deelgeneem nie. Luidens die akte van beskuldiging is almal wat deel was van die vergadering lede van die 27’s-bende.

“Die partye het op die vergadering besluit dat Wainstein vermoor moet word,” lui die akte van beskuldiging. Daar is glo besluit dat Adams by die huis sou ingaan en Wainstein sou skiet, terwyl Cupido die voertuig sou bestuur wat hulle na Wainstein se huis in Constantia sou bring.

Intussen is Naidoo nog op Interpol se rooi lys vir gesoekte mense. Hy het laat in 2017 landuit gevlug nadat hy gehoor het die polisie soek na hom in verband met Wainstein se moord.

Hy word gesoek weens sameswering om moord te pleeg, moord en poging tot moord.

Drie ander mense, die sakeman Mark Lifman, sy vennoot Jerome “Donkie” Booysen en William “Red” Stevens, het Dinsdag in die landdroshof in Kaapstad in verband met Wainstein se moord verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, moord en geldwassery.

Die staat het gesê nog aanklagte kan bygevoeg word.

Luidens die klagstaat het hulle onwettig en opsetlik saamgesweer om Wainstein te vermoor.

Die staat het aangevoer Lifman en Booysen het ná Wainstein se dood steeds voordeel getrek uit die opbrengste van die sluikhandel in steroïed.

Intussen het Netwerk24 op goeie gesag verneem nog minstens drie mense kan op 9 Februarie 2020, met die drietal se volgende verskyning, by die saak gevoeg word.

Daar gaan ook nog aanklagte bygevoeg word.

Meer oor:  Brian Wainstein  |  Constantia  |  Geskiet  |  Beplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.