Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Wat is jul prys?’ – hoor polisielede in hof
Genl.maj. Jeremy Vearey en genl.maj. Peter Jacobs in Desember 2016 voor die arbeidshof in Kaapstad. Foto: Maygene de Wee

“Wat is jul prys?”

Dit was Woensdag die woorde van ’n senior beampte in die polisie se regsafdeling aan twee senior polisiebeamptes van die Wes-Kaap.

“Enige mens het ’n prys. Wat soek julle om die saak te laat vaar?” het brig. Arthur Mphahlele van die polisie se regsdienste in Pretoria Woensdag in die arbeidshof in Kaapstad aan genl.maj. Jeremy Vearey en genl.maj. Peter Jacobs gevra. Die hof was ten tyde van die voorval nie in sitting nie.

’n Duidelik geskokte Vearey het Mphahlele eers met verbasing op sy gesig aangekyk, sy kop geskud en toe aan hom gesê hul geding teen die polisie gaan nie oor geld nie, maar oor beginsels.

“Wanneer jy van prys praat, praat jy van geld,” het Vearey gesê. Hy het herhaal dat dit nie oor geld gaan nie, maar oor beginsels.

Mphahlele het hierop aan Vearey gesê: “Maar wat soek julle om die saak te laat vaar?”

Vearey het in antwoord hierop aan Mphahlele gesê hy en Jacobs was saam opgesluit (as politieke gevangenes op Robbeneiland) en hulle het veel meer opgeoffer vir veel minder.

Die gesprek het plaasgevind kort nadat Vearey en Jacobs met hul opdraggewende prokureur, Clive Hendricks, en hul regsverteenwoordiger, adv. Michael Donen, SC, beraadslaag en na die hofsaal teruggekeer het.

Jacobs het hierna vir Mphahlele gevra om te kalmeer en nie sy stem te verhef nie.

Jacobs het aan Mphahlele gesê sy optrede is ’n teken van die verval in die kultuur van die polisie. “Wanneer dinge ’n krisispunt bereik, vra julle wat die prys is.”

Hy het bygevoeg dat dit nie oor geld gaan nie, maar oor die oppergesag van die reg. “Dit gaan oor die grondwetlike reg van die publiek om beskerm te word, dit gaan oor polisiëring, dit gaan oor ons lede en hoe hulle polisieer,” het Jacobs gesê.

Mphahlele het hierop gesê hy moes seker sy vraag anders gestel het.

Die regsverteenwoordigers van die twee polisiebeamptes en die polisie het Woensdag gevra dat die saak uitgestel word.

Hendricks het gesê albei partye het uitstel en ’n nuwe hofdatum gevra. Hendricks het gesê hulle het die regter gevra vir twee dae vir die verhoor. “Een dag is te min.”

Vearey en Jacobs vra in hofstukke dat lt.genl. Khombinkosi Jula die rekords verskaf van sy besluit om hulle na onderskeidelik die Kaapstad- en die Wynberg-polisiegroepering oor te plaas.

Vearey was voor sy oorplasing na Kaapstad die Wes-Kaap se speurhoof. Jacobs was hoof van misdaadintelligensie in die Wes-Kaap.

Die skuif is in Junie 2016 op ’n vergadering van groeppolisiehoofde, afdelingshoofde en stasiebevelvoerders aangekondig. Op die vergadering is glo ’n organigram gewys wat die polisiegroeperings toon en waar Vearey en Jacobs daarby inskakel.

Die twee sê in die stukke die dokumente wat in antwoord op hul hofaansoek aan hulle gestuur is, is dokumente en/of korrespondensie wat gegenereer is nádat hulle beveel is om hul poste te ontruim en hulle elders aan te meld.

Luidens die hofstukke is daar volgens die polisie se hoof van regsdienste in die Wes-Kaap egter geen dokumente beskikbaar wat die besluit oor Vearey en Jacobs se oorplasing regverdig of kan staaf nie.

Paul Bester, Popcru-verteenwoordiger van die twee senior polisielede, het destyds gesê daar was ook geen konsultasieproses met Vearey en Jacobs of met die vakbond nie.

Hulle voer ook aan dat die redes vir hul oorplasing nie net in die openbare belang is nie, maar dat dit ook in die belang van die polisie is.

Meer oor:  Hofsaak  |  Polisielede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.