Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wat maak jy ná ma só sterf?

Twee jaar nadat hy op sy ma se erg verminkte lyk afgekom het, is haar moordenaar uiteindelik die afgelope week gevonnis, maar Rolf Wiers sukkel steeds om dié trauma te verwerk.

Verpletter: Rolf Wiers.

“Dit gaan al ’n klein bietjie beter. Ek dink ek het nou begin besef daar is niks wat ons kan doen om haar terug te bring nie,” sê Rolf (19).

Tanya Wiers (44) is in Februarie 2017 deur Frans Maela, tuinier van die Wiers-gesin se bure, in haar huis oorval en vermoor.

Adv. David Sebelebele, staatsaanklaer, het later ter strafverswaring aan die hof gesê Wiers is tien keer in haar gesig gesteek en haar oë is verwyder.

Daar was ses steekwonde aan haar nek en twee skaafmerke. In haar bors was daar sewe steekwonde en aan haar hande en arms was daar nog sewe steekwonde.

“ ’n Mens kan jou nie indink waardeur sy moes gaan toe sy in haar eie huis verkrag en vermoor is nie,” het Sebelebele gesê.

Maela is die afgelope Maandag deur regter Gerrit Muller tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

Vir Rolf het daardie lewensveranderende dag in Februarie 2017 begin as net nog ’n gewone skooldag in gr. 9.

Gevonnis: Frans Maela.

“Ek het by die huis gekom en die klokkie gelui. My ma se kar was in die oprit, maar sy het nie geantwoord nie. Dis toe dat ek begin dink het iets is fout,” sê Rolf.

Hy het deur ’n tuinhekkie en ’n ander deur toegang tot die huis gekry.

“Binne het ek geroep, maar daar was geen antwoord nie. Toe kry ek haar daar lê.”

Daar is ’n ingehoue woede in sy stem wanneer hy voortgaan.

“Ek vat nou maar elke dag soos dit kom. As ek down voel, praat ek met my pa. Dit help darem ’n bietjie. Dis nie dieselfde as om met ’n mens se ma te praat nie, maar my pa gee om en dit help,” sê Rolf.

“Ek was net die eerste week ná die moord op my ma in die hof, toe sê ek vir my pa ek kan nie meer nie. Van toe af het ek dinge van ’n afstand dopgehou.”

Sedert Tanya Wiers se dood, was Rolf in verskillende skole en ’n tegniese kollege in Polokwane, maar hy kon nie akademies vorder nie.

“Ek het net gr. 9 agter my naam. Dit gaan moeilik wees om so deur die lewe te gaan, en ek sal ’n plan moet maak iewers om verder te leer. Dis net nog moeilik op die oomblik. Hoe konsentreer ’n mens op jou skoolwerk terwyl die moord op jou ma nog in jou kop bly? Noudat daardie man tronk toe is, sal dit dalk beter gaan.”

Vir eers is daar egter nog nie vaste planne nie.

“Ek wil my rybewys kry en dan gaan ons weer kyk.”

Sy pa, ook Rolf, sukkel ook steeds om sy vrou se dood te verwerk.

“Maela het haar tien dae voor ons 20ste huweliksherdenking vermoor. Dis ’n leeftyd saam,” sê Wiers sr.

Die motief vir sy vrou se moord is steeds swaar om te sluk.

“Maela het haar juweliersware gesteel en ook ’n selfoon en ’n tablet wat in die kamer besig was om te laai. Veral die juweliersware pla my erg. Haar trouring wat ek met soveel liefde aan haar vinger gesteek het, moes ná 20 jaar moeilik gewees het om af te haal.”

Maela self laat hom koud.

“Hy het so gelieg in die hof. Hy het onder meer gesê hy het ons glad nie geken het nie. Dis bog. ’n Jaar of twee voor die moord op my vrou het hy selfs een of twee keer in ons tuin gewerk,” sê hy.

“Die patoloog het sy DNS in my vrou gekry. In die hof het Maela gesê dis gefabriseer. Hoe maak ’n mens so iets na?”

Daar lê ’n lang pad voor, veral vir sy seun.

“Hy het eenkeer ná my vrou se dood met ’n skoolrapport by die huis gekom. Toe ek vir hom vra of sy ma op sulke punte sou trots wees, het hy gesê hy het nie meer ’n ma wat sy punte kan sien nie. Dis vreeslik erg.”

Meer oor:  Frans Maela  |  Tanya Wiers  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.