Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
'Wat (ons) gedoen het, kon nie doodgemaak het'

“Wat ek, Cor en Boeta gedoen het, kon hulle nie doodgemaak het nie,” het Anton Loggenberg, een van die ses beskuldigdes, in ’n gesprek aan twee broers, Vickie en Nelus van der Westhuizen, gesê.

’n Opname van dié gesprek is Woensdag in die vigilante-moordverhoor in die rondgaande hof in Parys gespeel.

Vickie van der Westhuizen Woensdag in die rondgaande hof in Parys waar hy getuig het oor ’n gesprek tussen hom, sy broer Nelus en een van die beskuldigdes, Anton Loggenberg. Regs van hom is Jeremiah Tollie, die hoftolk.Foto: Alet van der Walt

Vickie van der Westhuizen het Woensdag getuig oor die gesprek tussen hom, Nelus en Loggenberg.

Vickie en Nelus se seuns, onderskeidelik Müller en Wicus, is twee van die staat se art. 204-getuies wat vroeër aangekla is. Hulle het reeds verlede jaar in die verhoor getuig.

Vickie het aan die hof vertel dat Loggenberg hom gebel het en gesê het hy wil hom sien. Die mans het by Weiveld buite Parys ontmoet en Vickie het die gesprek opgeneem.

In die opname sê Loggenberg hy wil met hulle praat om te hoor of hulle kinders regtig vir hulle die waarheid vertel het.

Loggenberg sê ook dat hy gehoor het dat van die beskuldigdes staatsgetuies geword het.

“Ek weet nie wie dit is nie, ons sal die 17de weet. Toe dog ek, ek moet dit vir julle noem. As daar sulke stories loop, moet julle weet wat aangaan.”

Vickie het gedurende kruisondervraging aan adv. Koenie Pieterse gesê hy het toe reeds geweet dit is Müller, Nelus en van sy werknemers wat art. 204-getuies geword het. Hy het dit egter nie aan Loggenberg gesê nie omdat die Valke gesê het hy mag dit nie aan iemand noem nie.

Die verdediging het ook Woensdag ’n skokapparaat as bewysstuk ingedien en gesê dié skokstok is die aand van die moorde deur een van die beskuldigdes, kapt. Henk Prinsloo, gebruik.

Xhalisa het getuig dat hy nog nie so ’n skokstok gesien het nie. Hy het gesê die apparaat wat Prinsloo gebruik het, was geluidloos.

Mbuzeni Xhalisa, ’n werknemer van Kobus Dannhauser, ’n boer van Parys, het Dinsdag getuig oor die skokstok waarmee Prinsloo die een man sou skok.

Xhalisa het in sy hoofgetuienis gesê Prinsloo, ’n polisielid, het met ’n flits in die een hand en met die skokstok in die ander hand by die man gestaan. Die man het agterop Loggenberg se bakkie gelê.

Die verdediging sê die skokapparaat wat Prinsloo gebruik het, is ’n flits en skokstok in een apparaat gekombineer. Xhalisa het ontken dat dié skokstok dieselfde een is wat die aand van 6 Januarie 2016 gebruik is.

Hannes Grimbeek, vir die verdediging, het aan die hof gewys dat die buiterand van die flits ’n skokapparaat is.

Grimbeek het die apparaat aangeskakel en die geluid daarvan was duidelik hoorbaar in die hof.

Xhalisa het getuig dat hy nog nie so ’n skokstok gesien het nie. Hy het gesê die apparaat wat Prinsloo gebruik het, was geluidloos.

Die verhoor spruit uit ’n beweerde mislukte plaasaanval op 6 Januarie 2016 toe ’n groep mans Samuel Tjixa (28) en Simon Jubeba (37) in hegtenis geneem het en volgens die staat so aangerand het dat hulle op 7 Januarie weens hul beserings dood is.

Prinsloo en Loggenberg word saam met Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen, Cor Loggenberg en Miela Jansen van Vuuren van die moorde aangekla.

Regter Corné van Zyl hoor die saak aan en advokate Jabulani Mlotshwa en Sandile Mthethwa kla aan. Kobus Burger, Gideon Mandelstam en Hannes Grimbeek tree saam met Pieterse vir die verdediging op.

Meer oor:  Anton Loggenberg  |  Parys  |  Getuienis  |  Vigilante-Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.