Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Weduwee wag byna 9 j. vir erfgeld wat wanbelê is

’n Versekeringsmaatskappy moet nou die geld van ’n weduwee van Vrede in die Vrystaat aan haar uitbetaal nadat haar makelaar in dié dorp R2 miljoen van haar in die bodemlose put van ’n Sharemax-skema wanbelê het.

In ’n rigtinggewende uitspraak wat belangrik vir die algemene publiek, makelaars en versekeraars is, het appèlregter Azhar Cachalia beslis dat indien versekeraars uitsluitingsklousules by hul polisse inbou, moet hulle dit ondubbelsinnig en in duidelike taal uitspel.

Anders sal hulle moet opdok as hulle met dubbelsinnige en vae klousules hof toe gaan.

Vier ander appèlregters in die appèlhof in Bloemfontein het met hom saamgestem.

Dié hardnekkige weiering om haar belegging terug te betaal, eers van haar makelaar, Jose Castro, en daarna sy versekeraar, Centriq Insurance, het daartoe gelei dat Marisa Oosthuizen eers nou, byna nege jaar nadat Castro die grootste deel van haar erfporsie belê het, haar erfgeld kan terugkry.

Oosthuizen, wat nou in Langebaan in die Wes-Kaap woon, was baie kwesbaar in Julie 2010 toe Castro haar aangeraai het om in die Sharemax-skema The Villa Retail Park Holdings 2 te belê.

Centriq Insurance, wat aan Castro dekking teen persoonlike aanspreeklikheid verkoop het, het op ’n uitsluitingsklousule staatgemaak om ’n eis van Castro vry te spring.

Cachalia het gesê soos Centriq Insurance sy uitsluitingsklousule vertolk, beteken dit inderwaarheid dat makelaars geen dekking teen sulke eise oor nalatige of foutiewe advies aan kliënte het nie.

Hy het beslis dat Centriq Insurance Castro moet vrywaar en hy het die appèl van die hand gewys. Dit beteken Centriq Insurance moet vir dié geld instaan.

Hy het gelas dat Centriq Insurance die regskoste van die appèl betaal.

* Regter Johann Daffue het vroeër in die Vrystaatse hooggeregshof beslis dat Centriq Insurance Castro tot op R2,4 miljoen van die R2 miljoen kapitaal en R718 600 van die rente van Oosthuizen se eis moet vrywaar.

Centriq Insurance het hom tot die appèlhof gewend om teen dié bevel te appelleer.

Advv. John Mullins SC en Joubert Zietsman het in opdrag van Blair-prokureurs vir Castro en advv. C.E. Watt-Pringle SC en C. Bester het vir Centriq Insurance in die appèlhof opgetree. Mullins het in die hooggeregshof in opdrag van Henry Buchner van Honey-prokureurs vir Oosthuizen opgetree.

* Oosthuizen, wat nou in Langebaan in die Wes-Kaap woon, was baie kwesbaar in Julie 2010 toe Castro haar aangeraai het om in die Sharemax-skema The Villa Retail Park Holdings 2 te belê.

Haar man, Hannes (50), is sowat vier maande tevore in ’n skietery dood en sy het ’n seuntjie, Benjamin (2), gehad.

’n Polis het R3,4 miljoen aan haar uitbetaal. Met R2 miljoen wou sy ’n veilige belegging vir haar seun se opvoeding maak.

Sy het Castro vertrou. Hy was haar man se makelaar.

Meer oor:  Hof  |  Weduwee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.