Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Weermag-moord: Titus sit lewenslank

’n Voormalige ANC-raadslid van Oudtshoorn is Dinsdag lewenslange gevangenisstraf opgelê nadat sy aan die huurmoord op haar man skuldig bevind is.

Magdaleen Titus (43) is ook drie jaar gevangenisstraf vir regsverydeling in die rondgaande hooggeregshof opgelê. Sy sal die vonnisse gelyklopend uitdien.

Magdaleen en Preston Titus.

Sy is op 29 November verlede jaar aan die huurmoord op haar man, stafsers. Preston Titus, skuldig bevind.

Sy lyk is op 2 Desember 2017 met steekwonde in ’n slaapkamer in die egpaar se huis by die infanterieskool in Oudtshoorn gekry. Hy is met ’n hamer en ’n mes vermoor. Daar was geen gedwonge toegang tot die huis nie.

Titus en haar medebeskuldigdes, Justice Mooi (30), Natasha Stuurman (38) en Masithembe January (23), is aangekla van moord met voorbedagte rade en regsverydeling. Al vier het skuld ontken.

Titus en Mooi is aan moord en regsverydeling skuldig bevind. January en Stuurman is onskuldig bevind op die aanklagte teen hulle omdat daar nie bewyse is dat hulle deel van die beplanning van die moord was nie.

Mooi is Dinsdag ook ’n lewenslange vonnis en ’n bykomende drie jaar vir regsverydeling opgelê, wat hy samelopend sal uitdien.

Titus se voormalige motorbestuurder, Sixabiso Klip (23), is reeds in Januarie 2018 in die streekhof tot 15 jaar gevangenisstraf vir sy aandeel in die moord gevonnis.

Klip het vroeër getuig Titus wou ontslae raak van haar man en het ’n verhouding met January en ander mans gehad.

Die hof het vroeër bevind dat Titus die moord beplan het.

Volgens vriende sou Preston op 20 Februarie vanjaar sy 50ste verjaardag vier. Hulle het die vonnis verwelkom.

Meer oor:  Preston Titus  |  Oudtshoorn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.