Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Welpies-saak: 3 skotvry nadat appèl slaag

Twee wildboere, ’n pa en seun, van Theunissen en ’n diereversorger van Welkom wat tot boetes van duisende rande of tronkstraf gevonnis was nadat hulle jagluiperd- en leeuwelpies probeer red het, is nou skotvry.

Van die welpies destyds toe op hulle beslag gelê is.

Die appèl van Frans en Francoais Schutte van die plaas Jakhalskop en Tahlita Cloete van Welkom teen hul skuldigbevinding en vonnisse in die streekhof in Welkom het in die hooggeregshof in Bloemfontein met koste geslaag.

Net drie van die vier luiperdwelpies en een van die vier leeuwelpies het oorleef nadat die Vrystaatse departement van omgewingsake en die Valke op die welpies beslag gelê en hulle uit die sorg van Cloete verwyder het.

Die Schuttes was skuldig bevind dat hulle die diere sonder ’n geldige permit vervoer het en nie hul geboorte aangemeld het nie, terwyl Cloete skuldig bevind was omdat sy hulle sonder ’n geldige permit aangehou het.

Waarnemende regter Henriëtte Murray het in haar appèluitspraak ’n paar taai klappe na die Vrystaatse departement van omgewingsake en van sy inspekteurs uitgedeel.

Oor die inspekteurs het sy gesê daar kon van hulle verwag word om hul oordeel behoorlik te gebruik en behoorlik ondersoek in te stel oor wat in die beste belang van die welpies was.

Hulle wou duidelik eerder die wet afdwing en ’n voorbeeld van die wetsgehoorsame boere maak as om in belang van die welpies op te tree.

Sy het ook gesê dit blyk uit die getuienis dat die administrasie van die departement alles behalwe gebruikersvriendelik of doeltreffend is.

Die Schuttes is geregistreerde leeu- en jagluiperdtelers. Hulle het in Junie 2016 die pasgebore siek jagluiperdwelpies en ’n paar dae daarna vier siek drie weke oue leeuwelpies na ’n veearts, dr. Thys de Vries van die Toronto-dierekliniek in Welkom, gebring waar hy hulle behandel het.

Een jagluiperdwelpie het in Bloemfontein gevrek en drie leeuwelpies het gevrek kort nadat hulle weer terug by die Schuttes was.

Omdat hy nie die nodige geriewe gehad het nie het hy die diere na Cloete, twee straatblokke van hom af, verwys. Sy het al die nodige geriewe en hy kon hulle daar besoek.

Op 5 Julie het die Valke en die departement in Cloete se huis op die welpies beslag gelê en die siek welpies agter op ’n bakkie na Bloemfontein gebring.

Een jagluiperdwelpie het in Bloemfontein gevrek en drie leeuwelpies het gevrek kort nadat hulle weer terug by die Schuttes was.

Murray het bevind in albei gevalle wat die welpies na die veearts gebring is, was daar ’n noodsituasie. Hulle was siek of besig om te vrek en van die ander in die werpsel het al gevrek.

Boonop was dit ook vir hulle onmoontlik om die nodige vervoerpermitte te bekom. Die welpies moes eers met mikroskyfies gemerk word voordat só ’n permit uitgereik word en hulle was nog te klein en te siek om gemerk te word.

Sy sê in die lig van die noodtoestand wat bestaan het, was die Schuttes en Cloete se optrede geregverdig en regmatig en hul verweer van noodsaak slaag.

Regter Joseph Mhlambi het met haar uitspraak saamgestem.

Meer oor:  Welkom  |  Bloemfontein  |  Theunissen  |  Noodtoestand  |  Leeus  |  Leeuwelpie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.