Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Werklose ma moet R1 betaal

’n Ma wat 35 jaar lank ’n huisvrou was en geen inkomste verdien het nie, moet nou maandeliks R1 onderhoud vir haar jongste kind betaal.

Dié tuisteskepper, wat in 1984 op 17-jarige ouderdom getroud is en so erg afhanklik van haar man was dat sy nooit geleer motor bestuur het nie, is pas in die hooggeregshof in Pretoria van hom geskei. Die partye se name mag volgens wetgewing nie genoem word nie. Hulle het ses kinders van wie die jongste nog minderjarig is.

Die ma het in hofstukke gesê sy het sowat ’n jaar gelede uit hul huis getrek; sy en haar man het geen gemeenskaplike belangstellings meer nie. Sy sê sy was totaal afhanklik van haar man. Nadat sy hom verlaat het, het sy op haar familielede en donasies van die kerk gesteun.

Hul jongste seun woon by die pa en die pa aanvaar volle verantwoordelikheid vir die kind se onderhoud. Hy sal ook sy gewese vrou vir twee jaar help onderhou met ’n toelaag van R1 500 per maand. Die R1 per maand wat sy moet betaal, kom eintlik net neer op ’n erkenning dat sy ’n onderhoudsplig het en meer sal betaal as sy in die toekoms wel ’n inkomste verdien.

Riëtte Oosthuizen, familieregskenner van Pretoria, sê sulke nominale onderhoudsklousules word meestal gebruik by onderhoud vir ’n voormalige eggenoot, eerder as vir kinders.

Die wet bepaal in elk geval dat albei ouers verplig is om hul kinders te onderhou. ’n Ouer se onderhoudsplig teenoor sy kind word pro rata tot sy inkomste uitgewerk. Omdat die ma tot nou toe geen inkomste verdien het nie, was haar pro rata-bydrae R0,00 per maand, terwyl haar man die kinders 100% finansieel onderhou het.

Die onderhoudshof in Wynberg het in 2001 ’n man beveel om terwyl hy siek was R1 per maand onderhoud aan sy eksvrou te betaal. Die landdros het toe beveel dat as die man herstel en hy kry ’n permanente werk, kan sy eksvrou aansoek doen vir ’n verhoging van die onderhoud.

Die Kaapse egskeidingsprokureur Peter M. Baker het op die webtuiste Cape Town Lawyer geskryf mense “vind dit vreemd” wanneer hy voorstel dat R1 onderhoud per jaar in ’n skikkingsooreenkoms ingeskryf word.

“Die realiteit is dat geen hof ’n onderhoudstoekenning sal maak van ’n paar honderd of duisend rand teen iemand wat nie werk nie en dit nie kan bekostig nie.

“Die doel van die nominale onderhoud is om die onderhoudsbevel aan die gang te hou as toestande dalk verander.

“Dis net regverdig.”

Meer oor:  Onderhoud  |  Egskeidings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.