Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wettiging van genadedood in openbare belang
’n Paar mense met plakkate het van vroeg af voor die appèlhof gewys dat hulle nie ten gunste is van die wettiging van genadedood nie. Foto: Elsje du Toit

Die wettiging van genadedood is ’n beginselsaak en is in openbare belang, “al is my kliënt reeds dood”.

So het adv. H.B. Marais, SC, namens wyle adv. Robin Stransham-Ford, Vrydag voor ’n volbank regters in die appèlhof in Bloemfontein betoog.

Die ministers van justisie en korrektiewe dienste en gesondheid; die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA); en die nasionale direkteur van openbare vervolging appelleer teen regter Hans Fabricius se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria verlede jaar toe hy beslis het dat wyle Stransham-Ford (65), ’n kankerlyer, ’n dokter kon vra om sy lewe met ’n dodelike middel te beëindig.

Regters Malcolm Wallis, Ashton Schippers, Nambitha Dambuza, Carole Lewis en Legoabe Seriti het die saak aangehoor.

Adv. Harry van Bergen, SC, het gesê dat die uitspraak verkeerd was.

“Hy was verkeerd toe hy gesê het dat genadedood die enigste manier is om jou menswaardigheid te behou.”

Adv. L.G. Nkosi-Thomas, SC, namens die staat, het haar by hom aangesluit en gesê dat net lewende mense grondwetlike regte het.

“Die reg om te lewe, sluit nie in die reg om nié te leef nie,” het sy gesê.

Maar Lewis het haar daarop gevra of elke pasiënt nie vir hom- of haarself kan besluit nie.

Die appèlhof in Bloemfontein.Foto: Jens Friis

“Is dit nie ’n pasiënt wat in pyn verkeer se reg om te kies hoe en wanneer hy of sy wil doodgaan nie?”

Nkosi-Thomas het geantwoord: “Hy was nooit in soveel pyn met sy dood soos wat hy gedink het hy sou wees nie.

“Die dood maak nie net ’n einde aan die reg op lewe nie, maar ook ’n einde aan alle persoonlike regte wat Stransham-Ford gehad het.

“Net lewende mense kan grondwetlike regte hê.”

Marais is twee keer deur die regters gevra of die hof die regte platform is om dié saak aan te pak.

“Moet ’n mens dit nie eerder na die parlement vat nie?” was Schipper se vraag.

Marais het hulle op die 1998-Regshervormingskommissie se verslag oor genadedood gewys.

“Niemand het dit nog ooit hanteer nie. Die staat stel nie daarin belang nie,” het hy geantwoord.

Doctors for Life (DFL), Cause for Justice (CFJ), Centre for Applied Legal Studies (CALS) en Justice Alliance is as vriende van die hof toegelaat.

Die uitspraak word voorbehou.

Meer oor:  Robin Stransham-Ford  |  Bloemfontein  |  Genadedood  |  Appelhof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.