Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
WhatsApps vlieg tussen beskuldigdes op aand van moord
Corné de Beer (33), Richardt Botha (35) en Wayne van der Walt (35) met ’n vorige verskyning in die landdroshof in Pretoria-Noord. Foto: Deaan Vivier

Daar was selfoonboodskappe tussen die drie beskuldigdes die aand van die moord op Chris Barnard, voormalige lid van die destydse Koevoet. Van die boodskappe was ’n aanwyser na die ligging van sy huis, verwysings na bloed in sy badkamer en kamer, asook in sy rooi Jeep.

Dit is van die bewyse wat lt.kol. Alet Pratt van die Sinoville-polisie vroeër in die landdroshof in Pretoria-Noord gebied het as teenvoeter vir Wayne van der Walt (35) se aansoek om borgtog.

Van der Walt, wat van Vereeniging is, is toe borgtog geweier.

Richardt “Jagter” Botha (35) van Vanderbijlpark, een van sy medebeskuldigdes, wou ook ’n aansoek om borgtog bring, maar nadat hy Pratt se verklaring in die hof gehoor het én sy vriend se aansoek misluk het, het hy dit laat vaar.

Die twee mans word saam met Corné de Beer (33) van Sasolburg aangekla van die moord op Barnard, diefstal van sy Jeep, roof met verswarende omstandighede en bedrog.

Die saak is Donderdag verwys na die direkteur van openbare vervolgings om te besluit of die drie in die hooggeregshof verhoor sal word.

Chris Barnard, die vermoorde oud-Koevoetlid, in Irak afgeneem.

Hulle is einde Desember in hegtenis geneem nadat Barnard se familie agterdogtig oor sekere boodskappe van hom geraak het.

Sy lyk is egter eers in Februarie in ’n stuk veld noord van Pretoria gevind.

Die WhatsApp-boodskappe

Luidens Pratt se verklaring wat gedurende Van der Walt se borgtogaansoek ingedien is, het Barnard, wat vir ’n veiligheidsmaatskappy in Irak gewerk het, op 1 Desember 2019 in Suid-Afrika aangekom vir vakansie.

Hy sou tuisgaan in die huis wat hy met sy suster, Jenny Mentz, in Pretoria deel.

Op 4 Desember het Barnard ’n vriendin wat hom op Facebook bevriend het – vermoedelik De Beer – gaan haal om by hom te kuier.

Hy het haar bederf met inkopies.

Intussen is Mentz op 6 Desember na Mosambiek met vakansie. Barnard het ook die dag die “vriendin” teruggeneem na Sasolburg.

Daaroor lees Pratt se verklaring: “Die bewyse toon dat Beskuldigde 1 (De Beer) op 6 Desember terug is na die oorledene se woning. Sy het om 22:06 ’n WhatsApp-boodskap aan Beskuldigde 3 (Van der Walt) gestuur met Barnard se huisligging.

“Om 23:45 het sy vir Beskuldigde 3 ’n WhatsApp gestuur waarin sy sê die kamera (vermoedelik Barnard s’n wat tydens die aanval geroof is) werk nie.”

Beeldmateriaal van ’n kamera by ’n winkel waar ’n foon met Chris Barnard se bankkaart ná sy verdwyning gekoop is, wys vir Richardt Botha en Corné de Beer in die winkel. Foto: Foto-bewysstuk by hof ingehandig

Net ná middernag het De Beer nog ’n boodskap aan Van der Walt gestuur waarin sy sê dat alles “shap” is.

’n Foto van die bad het gevolg, met die verduideliking “bad water getap” (sic) en dan “straight to business”.

(Dit is nog onbekend wat die bad met Barnard se dood te doen het.)

Op 7 Desember het Mentz ’n boodskap van haar broer se nommer gekry waarin “hy” haar vra vir sy bankrekeningnommer en aanlyn wagwoord.

Sy het dit gestuur.

Dieselfde dag het die beskuldigdes by ’n lodge in Vereeniging gaan bly en met Barnard se bankkaart betaal.

Wayne van der Walt is afgeneem waar hy glo geld met Chris Barnard se bankkaart trek. Foto: Foto-bewysstuk by hof ingehandig

“ ’n Foto-uitkenning is gehou en die vrou by die lodge se ontvangs het al drie beskuldigdes geëien. Sy het ook gesê hulle het met ’n rooi Jeep gery. Die getuie het nêrens vir Chris Barnard gesien nie,” lui Pratt se verklaring.

Geld getrek

’n Veiligheidskamera in ’n winkel het ook daardie dag die drie afgeneem waar hulle, weer met Barnard se kaart, ’n selfoon koop.

Voorts is daar verskeie leningsaansoeke vir duisende rande gedoen op die vermiste man se naam. Net twee van die kleiner aansoeke was suksesvol.

“Op 6 Desember het Chris Barnard R284 026,41 in sy bankrekening gehad. Toe die beskuldigdes in hegtenis geneem is, was daar R1 091,60.

“Daar is ook beeldmateriaal waar Beskuldigde 3 geld met Barnard se kaart trek,” het die ondersoekbeampte aangevoer.

Van die boodskappe, insluitende ’n foto van Chris Barnard se bad, wat Corné de Beer glo aan Wayne van der Walt gestuur het die aand waarop Barnard vermoor is. Foto: Foto-bewysstuk by hof ingehandig

Sedert die oorledene se verdwyning was daar 11 onttrekkings uit sy bankrekening en die geld is glo in al drie beskuldigdes se bankrekeninge inbetaal.

De Beer het glo ook in ’n stadium ’n boodskap aan Botha gestuur met die opdrag dat, sou iemand oor Barnard uitvra, hulle moet sê dat hy betrokke was by “diamante” en dat hulle hom nooit weer gesien het nie.

Voorts beweer die ondersoekbeampte: “Ek glo dit is Beskuldigde 1 wat vir Jenny Mentz boodskappe gestuur het en voorgegee het om Barnard te wees.

“Ek glo Chris Barnard is die aand van 6 Desember met oorgang na die vroeë oggendure van 7 Desember vermoor,” het Pratt bygevoeg.

Rakende Van der Walt, het die ondersoekbeampte gesê hy is werkloos, het twee uitstaande lasbriewe teen hom en sy glo hy is ’n vlugrisiko.

Daarby is van Barnard se besittings in sy besit gevind en weet die beskuldigdes waar Mentz, wat nou ’n getuie is, bly.

Daar is ook baie openbare belangstelling in die saak nadat gemeenskapslede saam na Barnard help soek het.

“Toe sy lyk gekry is, was daar mense wat gedreig het om eie reg te gebruik,” het Pratt gewaarsku.

Wayne van der Walt se weergawe:

Van der Walt het in sy borgtogverklaring aangevoer hy het nog nooit vir Chris Barnard ontmoet nie en was nie by sy moord betrokke nie.

Volgens hom het Richardt Botha hom gevra om te kom help met goed by sy “oom” se huis in Pretoria.

Die “oom” sou glo oorsee bly en het nie meer sy goed nodig gehad nie.

Corné de Beer was reeds by dié huis, en het vir ’n Uber betaal om Botha en Van der Walt soontoe te bring.

Van der Walt beweer dat daar reeds goed in bokse gepak was. Hulle het dit in die Jeep gesit en na Botha se huis geneem.

Meer oor:  Chris Barnard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.