Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wiers dalk gewurg dat deel van tongbeen breek

Van die steekwonde wat Tanya Wiers aan weerskante van haar nek gehad het was so diep dat dit deur haar spiere tot naby haar stembande gestrek het.

Wiers (44) is op 7 Februarie 2017 in die gesin se huis in Eduanpark in Polokwane vermoor kort nadat sy van ’n nabygeleë winkel gekom het.

Dr. Malekgopo Matlala, patoloog, het Maandagmiddag in die hooggeregshof in Polokwane getuig ’n deel van Wiers se tongbeen was ook gebreek.

Tanya Wiers (44) is in 2017 in Polokwane in haar huis vermoor. Foto: Verskaf

Regter Gerrit Muller het haar gevra hoe iemand só ’n besering kan opdoen.

Matlala het gesê dit kom gewoonlik voor wanneer iemand aan die nek gewurg word. Daar is verskeie kneuswonde regoor Wiers se liggaam gewees.

Die amptelike oorsaak van Wiers, ’n ma van drie kinders, se dood was veelvuldige diep steekwonde in haar gesig, nek en hande. Sy het meer as 20 steekwonde gehad en daar was bloed in haar longe gewees.

Rolf Wiers, Tanya se man, het die getuienis oor die lykskouing ontstellend gevind.

Frans Maela (28) wat weens haar moord teregstaan, het kop onderstebo in die beskuldigdebank gesit terwyl Matlala getuig het.

Hy het verlede week skuld ontken op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Matlala het gesê Wiers het steeds haar bloeddeurdrenkte sybloes, met ’n blompatroon op, aangehad toe die lykskouing op 9 Februarie in die staatslykhuis in Polokwane gedoen is. Haar bra was ook vol bloed. “Sy het geen klere aan haar onderlyf gehad nie.”

Frans Maela (28) word vir Tanya Wiers se moord aangekla. Foto: Verskaf

Maria Botha, ’n nooddienswerker van ER24, het Maandagoggend getuig toe hulle om 14:40 by die huis in Loganstraat opgedaag het, was Wiers reeds dood.

“Daar was geen polsslag, beweging, reaksie of asemhaling nie.”

Botha het getuig Wiers het op haar regtersy op die vloer van haar jongste dogter se slaapkamer gelê. Haar linkerarm was bo-oor haar gesig gevou.

“Haar gesig was vol bloed. Ek kon nie na haar oë se pupille kyk nie, want haar oë was uitgekerf,” het Botha getuig.

Kapt. Regina Cecila Janse van Rensburg, ’n senior forensiese ontleder van die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria, het getuig semen van Maela is gekry in die vaginale smeer wat van Wiers geneem is.

William Kovani, Maela se prokureur, het gesê dit is gefabriseer. Janse van Rensburg het haar forensiese ontledings by die hof ingedien.

Matlala sal Dinsdag haar getuienis hervat.

Meer oor:  Frans Maela  |  Tanya Wiers  |  Polokwane  |  Moord  |  Moordverhoor  |  Getuienis  |  Patoloog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.